Polisie geloof vir spoedige optrede ná skietery in Meyerton-sakekern
Daar is groeiende kommer oor openbare veiligheid te midde van voortdurende geweld in die openbare vervoersektor.
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het die vinnige reaksie van wetstoepassers geloof ná ’n dramatiese skietery in Meyerton se sentrale sakekern vanoggend.
Volgens die party se Gauteng-leier en LPW, Jaco Mulder, het gewapende aanvallers met AK-47-aanvalsgewere op mense by ’n plaaslike taxistaanplek losgebrand.
’n Skoolleerling is tydens die skietery deur ‘n dwaalkoeël in die been getref, en onderwysers en leerlinge van ’n nabygeleë skool moes inderhaas ontruim word.
Die polisie het bevestig dat drie verdagtes kort ná die voorval in hegtenis geneem is. Nooddienste was ook vinnig op die toneel en het gehelp om verdere beserings en skade te voorkom.
Mulder het die vinnige optrede van beide die polisie en noodpersoneel geprys en gesê hul ingryping het waarskynlik lewens gered. “Die VF Plus loof die effektiewe en vinnige reaksie wat gehelp het om verdere skade te verhoed,” het hy gesê.
Die voorval hou glo verband met spanning in die taxi-bedryf. Die VF Plus het intussen skriftelik navraag gedoen by die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en die LUR vir Vervoer, Kedibone Diale, om die voorval te ondersoek.
“Dit is onaanvaarbaar dat onskuldige pendelaars en verbygangers vasgevang word in die kruisvuur van interne geskille binne die taxi-bedryf,” het Mulder bygevoeg en versoek dat die provinsiale owerhede dringend aandag aan die saak gee.
Die VF Plus se verklaring beklemtoon die groeiende kommer oor openbare veiligheid te midde van voortdurende geweld in die openbare vervoersektor. Verdere besonderhede sal bekend gemaak word namate die ondersoek vorder.
