Meer as 2 000 teken petisie om Jim Fouché-brug te red
Inwoner het gewys dat hulle die petisie steun.
MEYERTON – Hordes inwoners het onlangs na die Riverstone Mall gestroom om ‘n dringende petisie te onderteken waarin die Gautengse provinsiale regering gevra word om onmiddellik in te gryp oor die vervalle toestand van die Jim Fouché-brug.
Meer as 2 000 mense het volgens DA-raadslede die petisie onderteken, terwyl dit steeds moontlik is om dit hier aanlyn te onderteken.
In die petisie, opgestel deur raadslid Gerrit Viljoen van wyk 13, word beklemtoon dat die brug oor die Kliprivier in ‘n ernstige toestand van verval is.

Die erge erosie onder die teeroppervlak en gevaarlike slote langs die pad maak dit, volgens hom, ’n ongeluk wat wag om te gebeur. “Dit is nie meer ’n kwessie van ‘of’ iets gaan gebeur nie, maar ‘wanneer’,” lui die petisie.
DA-raadslede het ook ‘n video op sosiale media gedeel waarin hulle die gemeenskap bedank vir hul steun. “Ons wil baie dankie sê vir almal wat die petisie om teken het, hier by die sirkel by die Riverstone Mall vir ons brug se regmaak,” sê raadslid Phil Pretorius (Wyk 14). Erline Jordaan (Wyk 3) het bygevoeg: “Dankie, dankie almal. Ons waardeer dat julle uitgekom het en kom teken het. Ek glo dit gaan reggemaak word.” Gerrit Viljoen (Wyk 13) het die gemeenskap geloof vir hul eenheid: “Dit is awesome om te sien hoe ons gemeenskap saamgestaan het. Julle wat van ver af gekom het en julle wat plaaslik kom teken het – baie, baie dankie.”
Die petisie sal binnekort aan die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, oorhandig word.

