Inwoners tree op om motoriste by gevaarlike Jim Fouché-brug te waarsku
Terwyl daar vir Gautrans gewag word om die brug te herstel het waarskuwingstekens wat vroeër aangebring is intussen verdwyn.
MEYERTON – Bekommerde inwoners en ‘n plaaslike raadslid, Ockert Brits, het Vrydagoggend opgetree om die voortdurende veiligheidsrisiko’s by die vervalle Jim Fouché-brug aan te spreek, waar ‘n diep sloot ‘n ernstige gevaar vir motoriste inhou.
Ná vroeëre berigte deur Vaalweekblad, is die gevaarlike gedeelte van die pad met dromme en waarskuwingstekens afgesper. Maar mettertyd het dié veiligheidsmaatreëls verdwyn. Brits, ‘n Vryheidsfront Plus-raadslid, meen die waarskuwingsdromme is waarskynlik gesteel.

“Met die afgelope reën het die erge erosie onder die brugdek en aan die kante van die brug, wat reeds oor ‘n volle rybaan strek, nog vererger. Ons kan nie langer toekyk hoe die situasie versleg en niemand doen iets daaraan nie,” sê Brits.
In reaksie het inwoners plastiekversperrings, wat in die uitgeholde gedeelte onder die pad ingespoel het, gaan haal en terug op die pad geplaas om motoriste te waarsku. Brits het Vrydagoggend saam met ’n klein span mense na die brug gegaan om die area te beveilig.
Die Departement van Paaie en Vervoer (Gautrans) het nog nie aangekondig wanneer herstelwerk sal begin nie, ten spyte van toenemende kommer en meer as 2 000 handtekeninge op ’n petisie wat dringende optrede eis.
Tot dan doen die gemeenskap wat hulle kan om ‘n tragedie te voorkom.

