News

Bedrogsaak teen boekhouer nóg ‘n keer uitgestel

Joane van de Gevel het op 14 Mei nie in die hof opgedaag nie. ‘n Mediese sertifikaat is per WhatsApp gestuur was haar verskoning. Intussen wag die publiek en klaer op antwoorde, terwyl die saak na 16 Julie uitgestel is.

VEREENIGING – Die bedrogsaak teen Joane van de Gevel, ‘n voormalige boekhouer en sekretaresse, is weer uitgestel nadat die beskuldigde op 14 Mei nie in die hof verskyn het nie.

Van de Gevel, wat van finansiële bedrog aangekla word, sou vlugtig in die hof verskyn het, maar haar regsverteenwoordiger, Muhammed Omar, het egter reeds op 12 Mei aan die staatsaanklaer aangedui dat hy bankstate sal versoek van Van de Gevel se werkgewer.

Die klaer, Van de Gevel se voormalige werkgewer, Johannes Jurgens Hattingh (65) – eienaar van Martin Morgan Motors – het versoek dat Omar met die ouditeur wat die verslag vir die staat opgestel het, konsulteer.

Johannes Jurgens Hattingh (65) van Martin Morgan Motors. Foto: Christiaan Cloete

Omar het toe ’n vergadering met die ouditeur geskeduleer vir 10:00 op 18 Junie. Die konsultasie sal bygewoon word deur die ouditeur, asook ‘n speurder wat die saak ondersoek, waartydens die bankstate blootgelê sal word.

Op 14 Mei by die hof was Van de Gevel afwesig. Omar het toe aan die staat ’n mediese sertifikaat gewys wat die beskuldigde per WhatsApp aan hom gestuur het. Hy het onderneem om dit uit te druk en by die aanklagstaat aan te heg. Gevolglik is ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming wel uitgereik, maar die uitvoering daarvan is uitgestel tot die volgende hofdatum op 16 Julie.

Joané van de Gevel. Foto: Christiaan Cloete

Teen daardie tyd behoort die verdediging hul konsultasies afgehandel te hê en gereed te wees om ’n verhoordatum vas te stel.

Die saak geniet wye publieke belangstelling, veral in die Vaaldriehoek waar Van de Gevel voorheen as boekhouer by verskeie ondernemings werksaam was.

Joane van de Gevel in die hof tydens ‘n vorige verskyning. Argieffoto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button