Dr. Malan se ATKV-jeugtak ontvang toekenning vir uitsonderlike funksionaliteit
Skaars ‘n jaar nadat Hoërskool Dr. Malan se Holderstebolder-jeugtak gestig is het dit klaar ’n ATKV-toekenning losgeslaan vir uitsonderlike funksionaliteit.
MEYERTON – Hoërskool Dr. Malan se Holderstebolder ATKV-jeugtak het onlangs ’n Sertifikaat van Waardering van die ATKV ontvang vir die tak met die hoogste vlak van funksionaliteit – ’n uitsonderlike prestasie vir ’n jeugtak wat eers verlede jaar gestig is.
Volgens Amor Prinsloo, organiseerder van die jeugtak en onderwyser by die skool, is die jeugtak se sukses te danke aan die leerders self, wat elke projek van begin tot einde beplan en bestuur.
“Ek is net daar vir leiding en ondersteuning – dit is hulle toewyding en kreatiwiteit wat hierdie erkenning moontlik gemaak het,” sê sy.
Die Holderstebolder-tak bestaan uit vier bestuurslede en 16 aktiewe lede van graad 8 tot 12.

Prinsloo beskryf hulle as een groot ATKV-familie wat mekaar onvoorwaardelik ondersteun.
Van die projekte wat die tak in 2024 aangepak het, sluit in ’n bloedskenk-veldtog, betrokkenheid by die skool se voedingskema, ’n skemerkelkaand vir die restourasie van die klavier, ’n kunsuitstalling, verskeie kultuuraktiwiteite, asook liefdadigheidsinisiatiewe soos die insameling van wintersklere, komberse en tweedehandse boeke.
Die tak het ook Afrikaans se 100ste bestaansjaar gevier met temadisse, fliekaande, vasvrae en fondsinsamelings vir die skool se Afrikaanse departement.
“Die jeugtak bemagtig leerders om hul leierskap te ontwikkel en gee hulle die geleentheid om werklik ’n verskil te maak,” sê Prinsloo.
“Ons droom is om nog verder te groei en meer leerders, onderwysers en gemeenskapslede te bereik.” Vir skenkings of betrokkenheid by projekte, kan belangstellendes Amor Prinsloo kontak by die skool.

