DA in Midvaal stuur petisie van stapel om onwettige storting in Redan en besoedeling te stop
Die DA in Midvaal het ’n dringende petisie van stapel gestuur om die onwettige storting en lugbesoedeling in Redan stop te sit.
MEYERTON – Die DA in Midvaal het inwoners gevra om ‘n petisie te onderteken teen die onwettige storting van rommel en lugbesoedeling by Redan in die aangrensende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, langs die R59-hoofweg.
Kyk video hier:
Hoewel die storting buite Midvaal se grense plaasvind, sit inwoners van Midvaal met die gevolge, soos giftige rook en omgewingsbesoedeling. “Die gesondheid van ons inwoners en kinders is té belangrik om stil te bly,” lui ’n plakkaat van die DA wat inwoners aanmoedig om die petisie te onderteken.
Die DA sê die onwettige storting is al vir meer as twee jaar aan die gang en hou verband met die ineenstorting van dienslewering in Emfuleni. “Midvaal kan nie self ingryp of opruim nie, want dit is nie ons grondgebied nie en ons mag nie Midvaal-belastingbetalers se geld gebruik om Emfuleni se probleme op te los nie,” verduidelik die party.

Die petisie sal aan die Premier van Gauteng oorhandig word. Volgens die DA is alle moontlike roetes reeds gevolg, van plaaslike burgemeesters tot parlementêre strukture, sonder sukses.
Inwoners kan die petisie aanlyn hier onderteken.

Die DA sal ook in die komende dae by verskillende punte wees, waar inwoners die petisie kan teken:
*Vrydag 30 Mei: Pick n Pay in Golfpark en Sasol-vulstasie in Risiville van 16:00 tot 18:00
*Saterdag 31 Mei: Riverstone Mall (Jim Fouché-ingang) van 10:00 tot 13:00
*Woensdag 4 Junie: OK Foods in Rothdene van 14:00 tot 16:00
*Vrydag 6 Junie: Model Bottle Store in Kookrus van 16:00 tot 18:00
