Twee dood, verskeie beseer in botsing op Ou Johannesburgpad
Twee mense is dood en verskeie beseer in gru-botsing op Ou Johannesburgpad
VEREENIGING – ’n Tragiese motorongeluk het laat gisteraand op die Ou Johannesburgpad die lewe van twee mense geëis, toe ’n Ford Ikon en ’n Volkswagen Polo reg van voor met mekaar gebots het.
Die ongeluk het omstreeks 23:16 op 13 Junie 2025 in die omgewing van Alko gebeur.
Volgens nooddienste het die bestuurder van die Ford Ikon vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en voor die aankomende verkeer beland, waar dit die Polo reg van voor getref het. Nooddienste is onmiddellik ontbied.
Een vrou is in die wrakstukke van die Polo gevind, terwyl drie ander insittendes buite die voertuig aangetref is met beserings. Twee persone uit die Ford is buite die voertuig aangetref – een in die middel van die pad en een in ’n stormwaterdrein langs die pad.
Die pad is vinnig afgesper en verkeer is herlei om die toneel te beveilig.
Ongelukkig is twee slagoffers – een uit elk van die voertuie – op die toneel dood verklaar. Een persoon uit die Ford is in ‘n kritieke toestand aangetref, terwyl die oorblywende insittendes van die Polo ernstige, maar nie lewensbedreigende beserings opgedoen het nie.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

