News

Minibus taxi vat vlam in naby General Smuts High School

Die bestuurder het pas passasier afgelaai toe hy rook uit die enjinkap sien kom…

VEREENIGING – ’n Toyota Quantum-minibus het Saterdagmiddag, 14 Junie, in die omgewing van General Smuts High School (naby die Ecotec-gebou) aan die brand geslaan.

Die voorval het kort ná 14:00 plaasgevind en het ’n vinnige reaksie van privaat sekuriteit en nooddienste ontlok.

Volgens ’n verslag uitgereik deur Sekuriteit Sonder Grense, is hul beheerkamer om 14:17 in kennis gestel van ‘n rookwolk.

Sekuriteit Sonder Grense se reaksieenheid is onmiddellik uitgestuur en het ’n Quantum op die toneel aangetref wat reeds aan die brand was. Brandweer en reddingsdienste is onmiddellik ontbied.

’n Tweede eenheid van Sekuriteit Sonder Grense  het ook opgedaag en die pad afgesper om verkeer te beheer en toegang vir die nooddienste te vergemaklik.

Die bestuurder van die voertuig het aan sekuriteitspersoneel gesê dat hy pas ’n passasier op die hoek van General Smuts- en Springbokstraat afgelaai het toe hy opgemerk het dat rook uit die enjin uit kom. Hy het uitgespring voordat die vlamme vererger het.

Emfuleni Brandweer en Reddingsdienste het omstreeks 14:40 opgedaag en die brand geblus. Lede van die Vereenigingse polisie was ook op die toneel. Geen beserings is aangemeld nie.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button