News

Midvaal belê meer as R1,2 miljoen om drinkwater veilig te hou

Midvaal gee inspuiting van R1,2 miljoen vir nuwe chloorstelsel om drinkwater skoon en veilig te hou.

MEYERTON – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het meer as R1,2 miljoen belê in ’n nuwe outomatiese chloor-doseringstelsel om te verseker dat drinkwater aan inwoners veilig bly en aan nasionale standaarde voldoen.

Burgemeester Peter Teixeira het verlede week die installasie by die Meyerton-reservoir besoek en Vaalweekblad persoonlik genooi om die nuwe stelsel te besigtig. In ’n video op sy Facebook-blad het hy dit as ’n proaktiewe stap beskryf om inwoners teen watergedraagde siektes soos cholera te beskerm.

“Hierdie reservoir voorsien sowat 80% van Midvaal se drinkwater. Hierdie nuwe stelsel is nog ’n manier waarop ons die ekstra myl gaan vir ons gemeenskap,” het Teixeira gesê.

Midvaal se burgemeester Peter Teixeira (middel) tydens ‘n besoek aan die reservoir in Sicelo wat sowat 80% van Midvaal van water voorsien. Foto: Christiaan Cloete

Die stelsel, wat by die grootste reservoir in die munisipaliteit geïnstalleer is, voeg chloor by die water op grond van die vloeitempo en monitor deurlopend die oorblywende chloorvlakke. Volgens die kontrakteur op die terrein is dit nodig omdat chloor mettertyd afbreek soos die water verder van die reservoir beweeg.

Die burgemeester het gesê die besluit om die stelsel aan te skaf is geneem na aanleiding van bekommernisse uit die gemeenskap en laboratoriumtoetse wat wel bevestig het dat die water veilig is, maar ook gewys het dat sekere elemente nie optimaal is nie.

Die stelsel help ook om infrastruktuur te beskerm deur korrosie in pype te verminder. Die plan is om die stelsel later ook in gebiede soos Eye of Africa, Walker’s Fruit Farms, Henley-on-Klip en Daleside uit te brei, namate fondse beskikbaar raak.

Die stelsel. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button