‘n Stil stap vir geliefde troeteldiere by Bass Lake op 19 Julie
Bass Lake se rustige paadjies sal op 19 Julie ’n besondere betekenis kry wanneer diere-eienaars en hul troeteldiere saam stap terwyl hulle hul geliefde viervoeters gedenk. Die inisiatief spruit uit Hettie Fowlds se persoonlike tragedie, maar is nou ’n gemeenskapsprojek wat hoop en ondersteuning bied aan ander wat ook hul honde moes afstaan.
Die wegspring is 08:00.
‐——- ——- ——- ——- ——- —– —– —— ——
HENLEY ON KLIP – ’n Troeteldiervriendelike gedenkstap word op 19 Julie by Bass Lake gehou ter nagedagtenis aan drie honde wat vroeër vanjaar vergiftig is – én aan elke hond wat nooit weer huis toe gekom het nie.
Die stap, wat om 08:00 wegspring, is gereël deur Hettie Fowlds van Henley on Klip nadat haar honde Daisy, Shadow en Annie op tragiese wyse binne twee dae van mekaar gesterf het.
Op 20 Mei het sy by haar huis aangekom en die lewelose liggaam van Daisy in die oprit gevind.
Shadow is later ingeneem vir noodbehandeling en moes twee dae later uitgesit word.
Annie se liggaam is eers die volgende dag tussen die plante by die hek gevind.
Volgens Fowlds het beeldmateriaal van hul sekuriteitskamera daarop gedui dat gif waarskynlik omstreeks 08:30 oor haar muur gegooi is.
“Hierdie stap is vir elke troeteldier en eienaar wat al die hartseer van verlies ervaar het,” sê Fowlds.
“Maar dit is ook ’n poging om bewusmaking te skep en om dalk ander lewens te red.”
Deelname is gratis, maar stappers word aangemoedig om hondekos, kontant of troeteldierprodukte saam te bring.
Die skenkings sal aan Vaalpets oorhandig word. Noodhulpkissies vir vergiftiging sal by die geleentheid beskikbaar wees.
