Bekende privaatspeurder verloor stryd teen kanker
Sy is maar onlangs met sekondêre lewerkanker gediagnoseer.
VEREENIGING – Die Vaaldriehoek is in rou nadat Janine van Rensburg, ‘n gerespekteerde en geliefde privaatspeurder, verlede week haar stryd teen kanker verloor het.
Sy was 50 jaar oud.
Janine is onlangs met sekondêre lewerkanker gediagnoseer wat vinnig versprei het na haar maag, dunderm, pankreas, baarmoeder, longe en selfs haar ruggraat.
Tot die einde toe het sy met dieselfde vasberadenheid geveg waarmee sy meer as 25 jaar lank onreg en geheimenisse ontrafel het.
Haar man en kollega, Rodney Janse van Rensburg, het die hartverskeurende nuus Donderdagoggend met familie en vriende gedeel via ’n WhatsApp-groep. “Sy het dit nie gemaak nie,” het hy in ‘n stemboodskap gesê.
Woensdagaand, ure voor haar dood, het hy laat weet hoe ernstig haar toestand was: “Janine is in ‘n kritieke toestand. Dokter sê haar bloedselle veg die kanker maar haar maagseer bloei te erg. Haar bloed is baie en haar liggaam verwerp elke behandeling. Sy is te swak vir intubasie.”
Sedertdien stroom boodskappe van meegevoel in.
“Sy was my sielsgenoot, my eggenoot, my lewe, my en my kinders se alles. Ek weet sy is verlos van die pyn. Ek sal altyd lief bly vir jou. Tot ons weer ontmoet,” het Rodney gesê.
“Vlieg hoog. God het jou pyn en lyding gesien en jou na Sy koninkryk geneem. Ons familie is gebroke, maar ons gun jou rus en vrede. Rus sag, tot ons weer ontmoet,” lees nog ‘n boodskap.
