Ses sterf in gru-ongeluk op R42 naby Meyerton
Volgens voorlopige inligting was die wit Ford Focus besig met ’n verbysteekmanoeuvre toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en met die vragmotor gebots het.
MEYERTON – Ses mense, insluitend ‘n driejarige kind, is Maandagmiddag dood ná ‘n noodlottige ongeluk tussen ‘n wit Ford Focus en ‘n vragmotor op die R42 tussen Meyerton en Heidelberg.
Volgens ‘n verklaring van die polisie in Meyerton het die voorval op 14 Julie 2025 omstreeks 15:30 plaasgevind.
Met aankoms op die toneel het die polisie gevind dat ‘n wit Ford Focus en ‘n vragmotor met mekaar gebots het. Al ses insittendes van die Ford Focus — drie vroue, twee mans en ‘n driejarige kind — is op die toneel dood verklaar. Die vragmotorbestuurder het die ongeluk oorleef.

Volgens voorlopige inligting van die polisie was die Ford Focus besig om die vragmotor te verbygesteek toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en met dieselfde vragmotor gebots het.
Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag. Alle betrokke eenhede, insluitend die ongelukseenheid, speurders en die kommunikasiebeamptes, was op die toneel teenwoordig.
Die oorledenes se liggame is na die Sebokeng lykshuis geneem vir nadoodse ondersoek.
Polisiewoordvoerder konstabel Nompumelelo Zazini het bevestig dat die ondersoek voortduur en versoek die publiek om hul veiligheid altyd eerste te stel op die pad.
