Geen foto’s van vermeende bedrieër – Vanderbijlpark-landdros
Hoewel die staat geen beswaar gehad het teen die teenwoordigheid van fotograwe nie, het dit duidelik geword dat die verdediging vasbeslote is om hul kliënte se identiteit so lank as moontlik uit die publieke oog te hou.
VANDERBIJLPARK – Emile de Witt (36), ‘n man wat na bewering aan verskeie bedrog- en swendelskema’s gekoppel word, het Woensdag 17 Julie weer in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn. Hy het saam met mede-beskuldigde Janri Verster (26) op aanklagte van bedrog en diefstal verskyn.
Volgens die klagstaat het die beskuldigdes in Maart 2021 valslik voorgegee dat hulle die eienaars is van ‘n 1,2 hektaar erf in Mullerstuine, Vanderbijlpark. Die klaagster, Martha Madithule Lilian Lebakeng, het glo R210 000 vir die eiendom betaal op grond van hierdie wanvoorstelling, net om later uit te vind dat die eiendom aan ‘n derde party, Barend Coetzer, behoort.
Ten spyte van die openbare aard van die verrigtinge, het landdros Phumeza Ngindo ‘n aansoek van die media om die beskuldigdes af te neem, van die hand gewys. Sy het bevind dat bemiddeling tussen die klaer en beskuldigdes steeds aan die gang is, en dat dit voorbarig (“premature”) sou wees om foto’s toe te laat terwyl die proses voortduur.


MT Daniso, die staatsaanklaer, het namens die staat aangedui dat hulle geen beswaar het teen die aansoek nie, maar beide beskuldigdes se regsverteenwoordigers – Nicholas Cloete namens De Witt en S Schreuder namens Verster – het aangevoer dat die aansoek “onvolledig” was en sonder voldoende kennisgewing gebring is. Hulle het verder beklemtoon dat geen van die beskuldigdes nog ‘n pleit ingedien het nie en dat die saak sensitief van aard is.
Dit is glo al die sesde hofverskyning van die beskuldigdes.
Die saak is uitgestel tot 14 Augustus.
De Witt, wat in ‘n luukse bronskleurige Land Rover gearriveer het, het die hof verlaat voordat die media hom buite die hof kon afneem. Hy word ook in verskeie openbare waarskuwings deur ondersoeker Mike Bolhuis genoem, en word aan verskeie klagtes van eiendomsbedrog gekoppel.

