Tenkwa met 40 000l brandstof herwin ná rooftog – drie verdagtes vas
40 000 liter brandstof terug ná rooftog in Steelweg – drie in hegtenis geneem.
VEREENIGING – ’n Gewapende rooftog het Vrydagaand, 11 Julie, by ’n brandstofmaatskappy in Steelweg afgespeel.
Volgens die eienaar is drie verdagtes kort ná die voorval in hegtenis geneem en is ’n brandstoftenkwa wat na bewering sowat 40 000 liter brandstof vervoer het, herwin.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die SAPD en sekuriteitsmaatskappye wat by die suksesvolle optrede betrokke was, onder andere Sekuriteit Sonder Grense.
Hoewel die eienaar die voorval teenoor Vaalweekblad bevestig het, het hy aangedui dat hy verkies dat die saak nie groot nuusdekking ontvang nie en wil hy tans nie verdere kommentaar lewer nie.
Vaalweekblad het ook ’n navraag gerig aan polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Mavela Masondo, maar het teen druktyd nog geen amptelike verklaring van die polisie ontvang nie.
Sodra ’n formele reaksie beskikbaar is, sal die berig bygewerk word.
