News

Nasionale SAPD-rugbykampioenskap in Vanderbijlpark gehou

Inwoners van die Vaaldriehoek word uitgenooi om die polisie se top rugbyspelers van regoor die land te ondersteun.

VANDERBIJLPARK – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Nasionale Rugbykampioenskap word vanjaar in die Vaaldriehoek gehou, en inwoners word uitgenooi om die polisie se rugbyspelers te kom ondersteun.

Die Sedibeng-distrik is gekies om vanjaar hierdie gesogte toernooi aan te bied, wat van 27 Julie tot 2 Augustus 2025 by die Isak Steyl-stadion in Vanderbijlpark plaasvind. Wedstryde begin daagliks vanaf 08:00, en toegang is gratis vir die publiek.

Volgens SAPD-Sedibeng-woordvoerder, sers. Nthabiseng Mokhachane, sal mans- en vrouespanne van regoor die land meeding, met slegs Noordwes-provinsie wat vanjaar nie deelneem nie.

Die distrikskommissaris, maj-genl. Nkhensani Mukwevho, het ’n hartlike uitnodiging aan die publiek gerig en inwoners aangemoedig om in groot getalle op te daag. “Ons is trots om hierdie kampioenskap aan te bied en ons wil hê die gemeenskap moet kom en ons spanne ondersteun,” sê sy.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het sy volle steun aan die toernooi toegesê, en die gebeurtenis sal landswyd op SuperSport uitgesaai word. Benewens opwindende rugbyaksie sal daar ook vermaak vir toeskouers wees. Die byeenkoms is gesinsvriendelik, en kinders is welkom om dit by te woon.

Met van die land se beste polisiërugbyspelers op die veld en ’n feestelike atmosfeer wat verwag word, beloof die weeklange kampioenskap om ’n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender te wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button