News

Van SA politiek tot Amerikaanse plase

Van Gautengse wetgewer tot plaas – Kobus Hoffman veg nou sy grootste stryd: teen die man in die spieël.

ARKANSAS – Vir Kobus Hoffman het die geraas van die politiek plek gemaak vir die stilte van ’n Amerikaanse plaas.

Die eens vurige Vryheidsfront Plus-LP, wat nooit geskroom het om die spreekwoordelike appelkar te skud nie, het verdwyn ná sy skorsing en regsprobleme met die party.

Toe verskyn ’n kriptiese Facebook plasing: “Just disappear. Go to war against the man in the mirror. And don’t come back until you win.

Vaalweekblad het Kobus gaan soek en hom opgespoor. Kobus is nou in Arkansas, deel van die H-2A-program, waar hy op ’n rys- en boontjieplaas werk.

Kobus Hoffman in die dae toe hy nog ‘n lid van die Gautengse wetgewer was.

“Ek ry trokke, maak masjienerie reg… ek werk hard,” sê hy. “My lyf moes aanpas, maar my kop het nodig gehad om weg te kom.”

Hy sê hierdie besluit was alles behalwe maklik. Sy vrou, Celeste, en hul kinders is nog in Suid-Afrika. “Ek het my gesin nog nooit vir langer as twee weke gelos nie,” vertel hy. “Nou is elke dag ’n stryd.” Hul kommunikasie is min.

Die tydsverskil maak dit moeilik, en tussen lang werksure en emosionele eensaamheid, skryf Kobus nou aan ’n tweede boek, terwyl hy ook worstel met groter vrae.

Landerye word geploeg in Arkansas.

Hy sien ander Suid-Afrikaners daar, mans wat die land verlaat het om families te onderhou. “Daar is baie gebroke mans hier. Jy sien die pyn in hul oë. Ek het dit nie verstaan toe ek nog in die politiek was nie.”

Sy siening oor politiek het ook intussen verander. “Meriete beteken niks nie. Jy’s óf deel van die binnekring, óf jy’s uit.”

Hy’s trots op wat hy bereik het, maar bitter oor hoe min dit uiteindelik beteken het. “Ek twyfel of ek weer sal stem. Ek twyfel of ek ooit weer sal glo.”

En tog, te midde van alles, sien Kobus hoop, nie in politieke partye of beleid nie, maar in mense. In die hardwerkende Suid-Afrikaanse mans wat hul trots saam met hul spiere dra.

“Ons mense is nie gebreek nie. Ons is dalk ver, maar ons staan regop.”

Dis nie ’n politieke terugkeer nie. Dis ’n nuwe begin. Stil. Eerlik. En dalk, net dalk, ’n wen teen die man in die spieël.

Op die plaas waar Hoffman werk.
Op die plaas waar Kobus Hoffman werk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button