Vrou ontsnap uit brandende voertuig in Meyerton
‘n Fietsryer wat gehelp het om haar uit die voertuig te bevry word geprys vir sy heldedaad.
MEYERTON – ’n Vrou het Woensdagoggend ter noue nood aan die dood ontkom toe haar voertuig onverklaarbaar aan die brand geslaan het op die hoek van Jim Fouché- en Donaldweg in Riversdal, Meyerton.
Die voorval het net voor 08:00 plaasgevind. Vaalweekblad se Christiaan Cloete was op pad werk toe, toe hy rook opgemerk en talle sirenes gehoor het.
Op die toneel het brandbestryders van die Midvaal-brandweer reeds die vlamme geblus wat ’n Opel Corsa-bakkie verswelg het.
Die eienaar van die voertuig, Angie Bender, is op die toneel aangetref – geklee in ’n kamerjas, duidelik geskok maar ongedeerd. Sy het vertel dat sy pas haar kinders by die skool afgelaai het toe sy rook opgemerk het en besef het die voertuig is aan die brand.
Sy het paniekerig geraak toe sy nie haar deur kon oop kry nie. Toe ‘n man op ’n fiets sy is in nood en spring dadelik in om te help. Hy het van buite af die deur oopgemaak.
Danksy die vinnige optrede van die onbekende fietsyer kon Bender betyds uit die voertuig ontsnap voordat die vlamme dit heeltemal verteer het.
Brandbestryders het kort daarna op die toneel aangekom en die brand vinnig onder beheer gebring, maar die voertuig het ernstige skade opgedoen.
Bender sê sy is dankbaar om lewend daaruit te kom en voel sy skuld haar lewe aan die man wat gehelp het.
Die oorsaak van die brand is nog nie bevestig nie, en owerhede doen verdere ondersoek. Geen beserings is aangemeld nie.
