News

Kontrakteur kanselleer Emfuleni se finansiële sisteem weens wanbetaling

Die staking van Emfuleni se finansiële stelsel beteken inwoners kan nie basiese dienste soos voorafbetaalde krag of klaringsertifikate bekom nie – 'n direkte gevolg van wanbetaling en finansiële wanbestuur.

VANDERBIJLPARK – Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit is weer eens in die moeilikheid nadat sy finansiële stelsel buite werking gestel is weens wanbetaling.

BCX Solar, die diensverskaffer wat Emfuleni se finansiële sagteware bestuur, het sy dienste gestaak nádat die munisipaliteit versuim het om instandhoudingsfooie te betaal – ondanks die feit dat lisensiegeld van R3,6 miljoen wel betaal is.

As gevolg hiervan is geen klaringsertifikate beskikbaar nie, kan inwoners nie voorafbetaalde elektrisiteit by die sentrum aankoop nie, en kan daar geen reëlings vir aan- of afsluiting van elektrisiteit en water getref word nie.

Volgens VF Plus-raadslid Gerda Senekal is BCX Solar maar een van vele diensverskaffers wat Emfuleni nie kan betaal nie. Rand Water het beslag gelê op die munisipaliteit se bankrekening weens ʼn skuld van R1,3 miljard – ʼn stap wat nou wye uitkringeffekte het.

Die sentrum in Paul Krugerstraat, Vanderbijlpark, waar die stelsel gebruik word, is op 30 Julie gesluit weens agterstallige huurgeld. Dit is intussen heropen nadat Emfuleni ʼn gedeelte van die skuld vereffen het en ʼn tydelike ooreenkoms met die eienaar bereik is.

Rand Water het daarna ingestem om Emfuleni se bankrekening tydelik te heropen sodat ʼn deel van die skuld en lisensiegeld aan BCX betaal kon word.

Die voorval volg kort ná ʼn besoek deur die Gautengse Cogta-komitee, wat aanbeveel het dat Emfuleni onder volle artikel 139-administrasie geplaas word met finansiële beheer wat aan die provinsiale of nasionale tesourie oorgedra word.

Volgens Senekal het die vorige administrasie van 2018 tot 2022 net groter skuld veroorsaak. “Die enigste uitweg is om van die ANC ontslae te raak,” sê sy.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button