Privaat branddiens bied hoop aan (gegoede) Emfuleni-inwoners
Waar Emfuleni se brandweer ophou, vat privaat brandweerdienste vlam—maar net vir dié wat kan betaal.
Inwoners van Vanderbijlpark en omliggende gebiede mag dalk nou toegang hê tot ‘n privaat brandbestrydingsdiens, ná nóg ‘n voorval wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se gebrekkige nooddienste aan die kaak gestel het.
Onlangs het ‘n huis by Mantevrede Kleinhoewes afgebrand, terwyl Emfuleni se brandweer glo nie kon reageer nie, glo omdat hul brandweerwa nie diesel gehad het nie.
Met die munisipaliteit wat herhaaldelik misluk om noodsaaklike dienste te lewer, begin mense al hoe meer op Fidelity SecureFire, ‘n intekening-gebaseerde, privaat brandbestrydingsdiens wat in Augustus 2023 deur Fidelity Services Group bekend gestel is, staatmaak.
SecureFire bied 24/7 nooddienste aan met ‘n lae-tot-hoë reaksie stelsel: ADT se gewapende reaksiebeamptes kom eerste aan, gevolg deur vinnige intervensievoertuie, en indien nodig, volwaardige brandweerwaens en gespesialiseerde spanne.
Die diens sluit ook toegang tot ‘n nasionale beheersentrum in, met voorspellende branddata en ‘n wye reeks brandveiligheidstoerusting en -inspeksies.
Die diens is beskikbaar in alle groot metros en het reeds begin uitbrei na kleiner dorpe, insluitend gebiede in die Vaaldriehoek.
Mense kan inteken vir R35 per maand as jy reeds ‘n ADT-kliënt is, of R59 per maand vir nie-ADT-kliënte.
Fidelity SecureFire vervang nie die munisipale brandweer nie, maar bied ‘n parallelle diens vir wie dit kan bekostig.
Volgens die maatskappy is daar reeds honderde voorvalle hanteer in Gauteng, met eerste reaksiebeamptes wat gemiddeld binne 15 minute op toneel is.
Fidelity is vir kommentaar genader rakende beskikbaarheid in Vanderbijlpark en Vereeniging, maar het nie teen druktyd gereageer nie.
*Besoek securefire.fidelity-services.com of bel 0860 070 700 vir meer inligting.
