Voormalige nagklubeienaar in hof oor verkragting, seksuele misdrywe en kinderpornografie
Die 62-jarige staan tereg op verskeie klagtes van verkragting, seksuele aanranding en kinderpornografie, wat glo minderjariges betrek.
OPDATERING 2025/08/25 – 09:30:
Die eienaar van ’n gastehuis in SW5, waarna daar in die oorspronklike berig verwys word, sê dit is onwaar dat die beskuldigde die gastehuis besit of bedryf. Volgens hom het die beskuldigde wel vir ’n tydperk daar gewerk, maar hy is nie meer betrokke by die gastehuis nie.
’n Familielid van die slagoffer het gesê die beskuldigde het die gastehuis se adres vroeër as sy plek van besigheid in ’n onverwante saak opgegee.
—————————————————————————————————————————————————-
SASOLBURG – ’n Voormalige nagklubeienaar van die Vaaldriehoek (62) het vroeër vandeesweek kortliks in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met bewerings van seksuele misdrywe en besit van kinderpornografie.
Volgens die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Grant van Bochove, is die saak Dinsdag uitgestel sodat bykomende inligting vir die borgaansoek verkry kan word.
Die hof het hierdie ekstra inligting van die staat versoek voordat die borgaansoek aangehoor kan word.
Sodra die hof die nodige dokumentasie ontvang, sal die borgtog-aansoek voortgaan. Vaalweekblad verstaan ‘n borgaansoek kan moontlik eerskomende Dinsdag gebring word. Die staat sal dit teenstaan.
Die beskuldigde is steeds in aanhouding.

Die klagtes teen die beskuldigde, soos vervat in die amptelike klagstaat, sluit in beweerde verkragting, seksuele aanranding, en die gebruik van ’n sogenaamde verkragtingsmiddel, asook ander ernstige aanklagte teen minderjariges.
Die saak word deur die Provinsiale Eenheid vir Reeks- en Elektroniese Misdaad (SECI) ondersoek.
Die beskuldigde was jare gelede uitsmyter by ’n nagklub in Vanderbijlpark en het later sy eie nagklub in Vereeniging besit.
Deesdae bedryf hy ‘n gastehuis SW5 in Vanderbijlpark.
Die identiteit van minderjariges kan nie bekend gemaak word nie. Vaalweekblad sal verder oor die saak berig soos meer inligting openbaar word.
