Tragedie in Meyerton: Homelands-man se huis deur brand verwoes
Hy het feitlik al sy aardse besittings in 'n oogwink verloor.
MEYERTON – Sondagmiddag omstreeks 14:00 het ’n huisbrand Carel Buitendag se huis totaal verwoes.
Hy kon net sy twee honde en die sleutels van sy motor red. Alles anders, insluitend familie-erfstukke en persoonlike besittings, is verlore.
Die brand het op ’n naburige kleinhoewes begin toe iemand glo die veld vir nuwe gras aan die brand gesteek het.

Sterk winde het die vlamme vinnig na Carel se huis gedryf. Die plaaslike brandweer het vinnig gereageer, maar selfs hul teenwoordigheid kon nie die huis red nie.
Die vuur het selfs sy wendyhuis en ’n staalhuis aangesteek en die gasbottel in die huis het ontplof.

Carel, wat in sy broer, Wiekus, se huis was, besig was om te eet, het geen kans gehad om besittings te red nie. “Hy het basies net sy kar, sy honde en die klere wat hy aan het,” sê sy suster, Sonja Van Rhyn.
Sy en die familie bly hom ondersteun terwyl die gemeenskap saamstaan om te help.

Om Carel te help om sy lewe en sy huis weer op te bou, het Sonja ’n Back a Buddy-bladsy geskep. Klik hier vir ‘n skakel na die blad.
Sy doen ’n beroep op die gemeenskap: “Elke tien rand help, of enige vorm van boumateriaal sal help.”

Die gemeenskap van Homelands het reeds met groot entoesiasme gehelp en sorg dat Carel nie alleen staan nie.
Die tragedie het nie net sy huis verwoes nie, maar ook ’n plek van herinneringe, vrede en trots.
Man van Homlands-kleinhoewes verloor alles in brand
Die familie van Carel Buitendag is besig met ‘n fondsinsameling nadat hy feitlik al sy aardse besittings in ‘n brand verloor het.

