Rudi Steenkamp neem afskeid van Laerskool Voorwaarts ná 25 jaar
Rudi Steenkamp tree af ná 25 jaar as die hartklop van Laerskool Voorwaarts.
*Die storie het eers in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (5 – 11 September, 2025) verskyn.
MEYERTON – Vir byna ’n kwart eeu was Rudi Steenkamp die hartklop van Laerskool Voorwaarts.
Nou, ná sy aftrede op 31 Julie vanjaar, kyk die 63-jarige oudhoof met dankbaarheid en emosie terug op sy lang loopbaan.

Steenkamp se pad na Voorwaarts het in Roodepoort begin, waar hy in 1985 sy onderwysloopbaan by Laerskool Culembeeck afgeskop het.
Ná ’n kort tydperk by Laerskool Dr Verwoerd (nou Laerskool Midvaal), is hy in 2000 as adjunkhoof by Voorwaarts aangestel.

Toe hoof Willie Marais die skool aan die einde van 2002 verlaat het, het Steenkamp oorgeneem – eers waarnemend, en vanaf Oktober 2003 as aangestelde hoof. Hy was net 41 jaar oud.
Onder sy leiding het Voorwaarts gegroei tot een van die mees gerespekteerde skole in die Vaaldriehoek.

’n Eksterne evaluasie deur die Gautengse Onderwysdepartement in 2023 het dit bevestig met ’n “absolute briljante verslag”.
Tog, sê Steenkamp, lê die ware siel van die skool in sy mense – elke kind en personeellid was belangrik en geliefd.

Hy onthou die skool se revues en melodramas, sportdae en akademiese prestasies as van sy mooiste herinneringe.
Tog het die pos nie sonder uitdagings gekom nie.
“’n Skoolhoof is die eensaamste persoon,” erken hy.

Tog het hy sy leiding geanker in geloof en die ondersteuning van sy vrou, Deleen, wat sedert 2013 as grondslagfasehoof saam met hom gewerk het.
Steenkamp se invloed het selfs buite die klaskamer gestrek. As rugbybeampte het hy saam met bekendes soos Freek Burger gewerk en ’n reël geskryf wat internasionaal aanvaar is.
Maar vir hom het sy grootste vreugde gelê in die bou van ’n sterk, liefdevolle skoolgemeenskap.
“Ek sal graag onthou wil word as ’n Godvresende, regverdige en konsekwente mens wat ander bo myself gestel het,” sê hy.
Die afskeidsfunksie, beskryf hy, was “beter as ons troue”.
Nou beplan Rudi en Deleen om die land te verken, te toer en te kamp. Maar Voorwaarts, sê hy, sal altyd diep in hul harte bly.

