Vereeniging se Julien gekroon as Queen of Africa 2025
Met haar kroon as Queen of Africa 2025 wil Julien du Plessis nie net skitter nie, maar ’n nalatenskap van hoop, diensbaarheid en transformasie agterlaat.
VEREENIGING – Toe Julien du Plessis, ‘n plaaslike sakevrou, op 6 September die glinsterende verhoog by Medley House in Brakpan betree het, het sy nie net selfvertroue en grasie uitgestraal nie, sy het ook twee jaar se opoffering, geloof en deursettingsvermoë saam met haar op die verhoog gebring.
Daardie aand, onder leiding van Africa Pageants-direkteur Carolyn Baldwin Botha, is sy gekroon as Queen of Africa 2025, ’n titel wat sy beskou as die vervulling van haar roeping.
Vir Julien is hierdie kroon meer as ’n blink juweel. “Hierdie titel is die erkenning van twee jaar se toegewyde harde werk,” sê sy met trots.
Haar reis het in 2022 begin toe sy as Mrs.Vaal gekroon is, en in 2023 het sy die titel van Mrs. Africa verwerf.

Maar die titel van Queen of Africa word slegs aan diegene gegee wat hul platform met integriteit en diensbaarheid leef.
Julien erken dat die pad nie sonder uitdagings was nie. Die vrees vir verwerping het haar soms laat twyfel aan haar eie waarde.
Tog het sy deur geloof, gebed en die onvoorwaardelike liefde van haar man en twee seuns moed gevind. “Ek het geleer om my identiteit in God te vind en nie in mense se opinies nie,” vertel sy.
Haar platform lê haar na aan die hart. Deur bedienings- en opleidingsprogramme glo sy daarin om die volgende generasie met liefde, selfvertroue en geloof toe te rus.
“Wanneer ons kinders toerus, bou ons sterker gesinne en ’n gesonder samelewing,” sê sy.
Julien hoop om as Queen of Africa ’n nalatenskap van hoop, diensbaarheid en transformasie agter te laat. “Ek wil hê mense moet kan sê ek het nie net ’n kroon gedra nie, maar harte geraak en lewens verander.”
Vir Julien is die kroon nie ’n bestemming nie, maar die begin van ’n roeping wat sy met nederigheid en passie gaan uitleef.

