News

Van Meyerton na Maleisië vlieg die Suid-Afrikaanse vlag hoog

35° hitte, drukkende humiditeit en ’n reënwoud kon nie Wynand en sy span se Suid-Afrikaanse veggees breek nie.

Toe Wynand Vlok, ’n bekende inwoner van Meyerton, na Maleisië verhuis het, het hy nie net sy familie nie, maar ook die gees van Suid-Afrikaanse vasberadenheid saamgeneem.

Vroeër vanjaar het Wynand en ’n klein groep Suid-Afrikaanse ekspats deelgeneem aan die Kuala Baram Race 4.0 en bewys dat afstand en nuwe omgewings nie die Suid-Afrikaanse veggees kan demp nie.

“Ons pa bewys daagliks dat daar niks is wat jy nie kan bereik met ’n bietjie uithouvermoë nie,” sê ’n familielid.

Wynand se voorbeeld het sy span en familie geïnspireer om uitdagings aan te pak, van ’n agste plek in ’n 100km fietsrywedstryd tot die feit dat hulle duisende kilometers ver moes trek om nuwe geleenthede te skep.

Die Suid-Afrikaanse span.

Die Suid-Afrikaanse span het op ’n unieke manier saamgekom; een aand terwyl hulle kaart gespeel het, het Wynand daarin geslaag om Wimpie Fourie en ander aan boord te kry.

Uiteindelik het vyf lede deelgeneem, Wynand Vlok (inisiëerder en hoofmotiveerder), Wimpie Fourie (tegniese spesialis), Walther Geyser (logoontwerper), Willem Smith en Francios Blignaut (spanlede).

Elkeen het sy eie vaardighede bygedra, almal verenig onder Wynand se motivering.

Die Suid-Afrikaanse span en hul fietse.

Die wedren self was ’n groot uitdaging – 35-grade hitte, drukkende humiditeit en die reënwoude van Maleisië.

Wynand was die enigste wat die padwedren binne tyd voltooi het, maar die span het erkenning gekry vir hul gees en samehorigheid.

Die Maleisiese fietsrygemeenskap het hulle hartlik ontvang en hul prestasie geprys.

Fietsry is vir Wynand en sy span meer as sport, dit is ’n manier om aan die huis gekoppel te bly, vriendskappe te bou en Suid-Afrikaanse veerkragtigheid te vier, waar hulle ook al is.

Met nuwe wedrenne in Asië en moontlik ’n terugkeer na Suid-Afrika in sig, wys hul storie dat die gees van tuis altyd kan inspireer en verenig.

Wynand Vlok by die eindstreep van die Kuala Baram Race 4.0.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button