Voormalige nagklubeienaar kry borg in saak oor verkragting en kinderpornografie
Die voormalige nagklubeienaar is op borgtog vrygelaat en sal binnekort ‘n rugoperasie ondergaan.
SASOLBURG — ’n 62-jarige voormalige nagklubeienaar van Vaalpark wat van verskeie seksuele misdrywe en die besit van kinderpornografie aangekla word, is hierdie week op borgtog vrygelaat ná sy jongste verskyning in die Sasolburg-landdroshof Woensdagoggend.
Die beskuldigde, wie se identiteit aan Vaalweekblad bekend is, is op 30 Julie 2025 in hegtenis geneem en staan tereg op ernstige aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, aanranding met ’n vermoedelik sogenaamde “date-rape”-middel, “grooming”, mensehandel van ’n minderjarige, en ander verwante seksuele misdrywe, waaronder die besit van pornografie.

Volgens die polisie hou verskeie van die aanklagte verband met drie sake wat tussen Julie en Augustus vanjaar in Sasolburg geopen is. Tydens die ondersoek is glo eksplisiete videomateriaal wat seksuele aanrandings uitbeeld, op die beskuldigde se rekenaar gevind. Lede van die Provinsiale Eenheid vir Reeks- en Elektroniese Misdaadondersoeke (SECI) het verskeie slagoffers opgespoor — sommige van hulle was glo onbewus daarvan dat hulle gedwelm, verkrag en verfilm is.
Onder die slagoffers is sy stiefdogter, sowel as ’n 13-jarige wat in sy sorg geplaas is deur ’n privaat maatskaplike werker.

Volgens Mojalefa Senokotsoane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, is die beskuldigde op borgtog vrygelaat met streng voorwaardes, waaronder dat hy nie met enige van die slagoffers of staatsgetuies kontak mag hê nie. Die saak is uitgestel tot 7 November vir verdere ondersoek en instruksies van die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV).
Polisiebronne het aangedui dat die beskuldigde se eerste borgtogaansoek vroeër vanjaar afgekeur is, maar dat ’n tweede aansoek — deur ’n nuwe prokureur — toegestaan is, ondanks dat dit glo op dieselfde feite gebaseer was.
Onbevestigde inligting dui daarop dat die beskuldigde ’n rugoperasie moet ondergaan — ’n gesondheidstoestand waarop hy reeds tydens vorige hofverrigtinge aangedring het.
Die SECI-eenheid se ondersoek duur voort, en bykomende aanklagte van verkragting en die besit van pornografie word steeds verwag.
Redaksionele nota: Die naam van die beskuldigde is doelbewus weerhou om te voorkom dat die minderjarige slagoffer geïdentifiseer kan word. Die Strafproseswet verbied publikasie van enige besonderhede wat ’n slagoffer van seksuele misdrywe direk of indirek kan identifiseer terwyl die saak nog hangende is.
