News

Van Kaapstad tot Hollywood, maar Meyerton bly in Hollywood-vervaardiger se hart

Selfs ná Netflix-glorie bly ’n klein Vaal-dorpie haar ankerpunt.

Die storie het eerste in die gedrukte uitgawe van Vaalweekblad (17 Oktober) verskyn.

MEYERTON – Alhoewel sy oorspronklik van Kaapstad is, het Ilda Diffley, ‘n bekende Hollywood-vervaardiger, steeds ’n sterk band met Meyerton.

In ’n eksklusiewe onderhoud met Vaalweekblad sê sy: “My ma se suster en ouma het hier gewoon, en ek het as kind amper elke jaar daar gekuier. Selfs nadat ek na Amerika getrek het, het ek steeds teruggekom. Huis is altyd waar die hart is.”

Diffley is een van die vervaardigers van die nuwe Netflix-treffer The Woman in Cabin 10, vrygestel op 10 Oktober, saam met die Britse vervaardiger Debra Hayward.

Die span van The Woman in Cabin 10. Ilda Diffley is heel regs. Foto: Verskaf

Die film is gebaseer op Ruth Ware se sielkundige riller van 2016 met dieselfde naam.

Dit vertel die storie van Lo Blacklock, ’n joernalis wat tydens ’n luukse bootreis in die Noordsee glo sy sien hoe iemand oorboord gegooi word. Almal ontken egter dat dit gebeur het, en sy word gedwing om die waarheid op eie houtjie te probeer vasstel.

Verskeie bekende Hollywood akteurs soos Keira Knightley en Guy Pearce speel in dié fliek.

Verskeie bekende Hollywood akteurs soos Keira Knightley en Guy Pearce speel in dié fliek. Foto: Christiaan Cloete

Diffley se pad na Hollywood was allesbehalwe maklik. Sy het in Washington DC as joernalis begin voordat sy na Los Angeles getrek het, waar sy as assistent begin en uiteindelik tot vervaardiger gevorder het.

Sy vertel: “Ek het altyd geweet ek wil stories vind en vertel. As vervaardiger kan ek die hele proses van ’n idee tot die finale film volg.”

Sy het voorheen gewerk aan films soos The Joneses met Demi Moore en David Duchovny, sowel as Mrs. Harris Goes to Paris, en sê haar liefde vir sielkundige rillers het haar na The Woman in Cabin 10 gelei.

“Ek hou daarvan om stories te vind wat mense laat dink en emosies losmaak,” sê sy.

“Miskien bring die regte storie my eendag weer huis toe — met ’n filmspan saam met my.”

Die Suid-Afrikaans gebore Hollywoodvervaardiger, Ilda Diffley, by die bekendstelling van The Woman in Cabin 10, wat op 10 Oktober op Netflix vrygestel is. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button