News

KYK: Matriekpaartjie ‘land’ in styl met lugwaardinne, ‘n rooitapyt en ‘n gejuig

’n Minibus vol juffrou-lugwaardinne het eerste uitgeklim — toe maak die deftige passasiers hul opwagting.

DE DEUR – Matriekafskeide is lankal nie meer net ’n dans nie — dis ’n swierige skouspel van deftige pakke, mooi aandrokke en spoggerige voertuie.

Hoërskool Dr. Malan se klas van 2025 het dié tradisie Woensdag 16 Oktober voortgesit by die Ayana Wedding Estate in De Deur — en veral één paartjie se aankoms het behoorlik vir opslae gesorg.

Henro Neethling, die skool se voormalige onderhoofseun van kultuur, en sy matriekafskeidmaat, Christely Meintjies, het koppe laat draai met hul skouspelagtige “lugdiens”-tema aankoms.

’n Minibus met die woorde “Malan Airways” het stadig voor die rooi tapyt gestop — en toe klim daar agt lugwaardinne uit.

Die “bemanning” was niemand anders as sewe van Hoërskool Dr. Malan se eie personeel nie: Irene Kruger, Marlé Penning, Nijinka Faasen, Rochelle Groenewald, Lianca Nagel en Sariska Uys — saam met Henro se niggie, Ro-Janie Nash, en sy tannie, juffrou Fien O’Reilly (ook ’n onderwyseres by die skool).

Eers nadat die lugwaardinne twee rye gevorm het, het Henro en Christely uit hul voertuig geklim — tot ’n dawerende gejuig van medeleerlinge en ouers.

Dit was ’n dramatiese aankoms wat niemand wat daar was, gou sal vergeet nie — en waarskynlik een wat nog lank in skoolkringe gaan herhaal word.

Henro en Christely arriveer in styl met hul eie ‘Malan Airways’-bemanning — ’n matriek- aankoms vir die geskiedenisboeke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button