Vaal treur ná noodlottige ongeluk wat twee jong vroue eis
Die Vaal is in rou ná ’n noodlottige ongeluk waarin twee jong vroue, oud-Dokkies Marioné Stols en Abigail Watters, Saterdagoggend in die vroeë oggendure hul lewens verloor het.
OPDATERING – 12:45 – 2025/11/04
MEYERTON/VANDERBIJLPARK – Twee jong vroue, Marioné Stols en Abigail Watters, het in die vroeë ure van Saterdag in ’n motorongeluk in Vanderbijlpark gesterf.
Volgens nuwe inligting wat onder Vaalweekblad se aandag gebring is, was hulle saam met ’n vriend op pad van Lux Night Club terug na Meyerton, nadat hulle vroeër die aand by Meyerton Klub saam gekuier het.
Volgens Suzaan Nel van die Meyerton Sportsklub wys beeldmateriaal dat hulle die klub teen 21:55 verlaat het, saam met hul vriend, en van daar sou hulle na nog ’n kuierplek in Vanderbijlpark gegaan het.
Nel sê die klub probeer gewoonlik voor 01:00 sluit om drama en ongelukke te vermy en bied jongmense ’n veilige plek om bymekaar te kom.
Die bakkie waarin hulle gery het, het in die vroeë oggendure van Saterdag in Vanderbijlpark (tussen Flora Gardens en die Vaal Mall) omgeslaan. Stols en Watters is glo op die toneel dood verklaar, terwyl die bestuurder oorleef het.
Beide oorledenes het in 2021 aan Hoërskool Dr. Malan gematrikuleer. Die skool het Maandag ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul meegevoel met die families betuig:
“Dokkies treur. Die Dokkie-familie se harte is swaar oor die verlies van twee geliefde oud-leerders wat die naweek hul lewens verloor het…”
Vaalweekblad het sedert die naweek verskeie pogings aangewend om kommentaar van die Vanderbijlpark-polisie te kry. Teen druktyd het polisiewoordvoerder, sersant Sabelo Sigcu, nog nie op navrae gereageer nie.
Die storie is opgedateer om die korrekte agtergrond rondom die voorval, Abigail se van, die feit dat hulle vroeër die aand by Meyerton Klub was, die tyd wat hulle die klub verlaat het, en die tyd van die ongeluk weer te gee soos deur betroubare bronne aangedui is.
——————————————————————————————————————————————————-
MEYERTON – Twee jong vroue, Marioné Stols en Abigail Watters, het Vrydagaand in ’n noodlottige motorongeluk in Vanderbijlpark gesterf.
Volgens inligting wat by Vaalweekblad uitgekom het, was hulle saam met ’n vriend op pad van Meyerton Klub in Meyerton na Lux-nagklub in Vanderbijlpark toe die bakkie waarin hulle gery het, omgeslaan het.
Stols en Walters is glo op die toneel dood verklaar, terwyl die bestuurder oorleef het.
Beide oorledenes het in 2021 aan Hoërskool Dr. Malan gematrikuleer.
Die skool het Maandag ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul meegevoel met die families betuig:“Dokkies treur. Die Dokkie-familie se harte is swaar oor die verlies van twee geliefde oud-leerders wat die naweek hul lewens verloor het…”
Vaalweekblad het sedert Saterdag verskeie pogings aangewend om kommentaar van die Vanderbijlpark-polisie te kry. Teen druktyd het die polisiewoordvoerder, sers.Sabelo Sigcu, nog nie op navrae gereageer nie.