News

Laerskool Midvaal vier 100 jaar Afrikaans met sprankelende Kultuuraande

Dis nie net die kunstenaars wat geskitter het nie – selfs die 10-jarige verhoogspan het dié Kultuuraand vlot laat verloop.

MEYERTON – Laerskool Midvaal het van 28 tot 29 Oktober sy jaarlikse Kultuuraande aangebied, dié keer met ’n spesiale fokus op die viering van 100 jaar van Afrikaans.

Die geleentheid het weer eens gewys waarom dit ’n hoogtepunt op die skoolkalender geword het.

Die Kultuuraande is drie jaar gelede begin om aan elke leerder wat hard werk aan hul items vir plaaslike kunstefeeste, nog ’n kans te gee om voor ’n vol gehoor op te tree.

Laerskool Midvaal se Senior Koor tee op tydens die jaarlikse Kultuuraande. Foto: Luzanne Jacobs

Waar kunstefeeste dikwels min toeskouers trek, kry die kinders hier die geleentheid om nog een keer te skitter en erkenning te ontvang vir hul maande se oefening.

Wat die aand besonders maak, is dat die hele produksie deur ’n groep van slegs tien leerlinge tussen 10 en 12 jaar oud bestuur word.

Izabella Victor tree op tydens Laerskool Midvaal se kultuuraande. Foto: Christiaan Cloete

Die span wat agter die skerms werk hanteer alles van gordyne en grimering tot klank, die verloop van die program en tegniese ondersteuning – met slegs beperkte leiding van twee of drie afrigters.

Geen vooraf repetisies word vir die Kultuuraande gehou nie; die span sit alles self aanmekaar om die verhoogervaring so eg as moontlik te hou.

Chené Trauernicht dra ‘n gedig voor tydens Laerskool Midvaal se kultuuraande. Foto: Christiaan Cloete

Leerders het die gehoor bekoor met individuele en groep danse, sangsolo’s, monoloë, gedramatiseerde gedigte en optredes deur die junior en senior kore en spreekkore.

Een van die aand se verrassings was toe ’n leerder skielik uit die gehoor begin sing het – sy weergawe van My Way deur Frank Sinatra het tot ‘n dawernde applous gelei.

Kaylene Jerling voer ‘n dans uit tydens Laerskool Midvaal se kultuuraande. Foto: Christiaan Cloete

Die twee aande was ’n fees van talent, kreatiwiteit en trots – ’n waardige huldeblyk aan die ryk erfenis van Afrikaans en die passie van Laerskool Midvaal se leerders.

Jordan Rock dra ‘n gedig voor tydens Laerskool Midvaal se Kultuuraande. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button