Skieter steeds op vrye voet – druk op Emfuleni-burgemeester neem toe
Terwyl die ondersoek voortduur, broei daar toenemende onmin binne sekere partystrukture oor Radebe se leierskap.
EMFULENI – Byna ’n jaar nadat ’n onbekende skieter op die amptelike voertuig van Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Sipho Radebe, losgebrand het, is daar steeds geen arrestasies nie – en die politieke spanning rondom sy leierskap neem intussen toe.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, het vandeesweek aan ‘n Sondagkoerant bevestig dat die saak steeds ondersoek word en dat niemand nog vasgetrek is nie.
Die skietery het vroeër vanjaar in Small Farms, Evaton, plaasgevind toe daar op ’n BMW X3 waarin die burgemeester en lede van sy beskermingseenheid gereis het, losgebrand is.
Een van die burgemeester se beskermingsbeamptes, Fani Ntloba, is in die arm gewond.
Volgens ‘n verklaring wat deur Radebe se bestuurder, Ishmael Thiso, afgelê is het die burgemeester saam met Ntloba, sy persoonlike assistent Shimi Mokobane, en ’n vrou Relebohile Nteo, in die voertuig gereis toe die aanval plaasgevind het.
By die hospitaal het Thiso koeeëlgate op die voorruit en bande opgemerk.
Hoewel die polisie nog geen amptelike motief bevestig het nie, word daar wyd gespekuleer oor wat tot die aanval gelei het.
Intussen is daar min terugvoer gegee oor watter vordering in die saak gemaak is.
Op die politieke front staan Radebe onder toenemende druk.
Die ANC-Vroueliga in die Sedibeng-streek het in ’n formele brief aan die party se streekstruktuur versoek dat hy “onmiddellik” verwyder word.
Die liga voer aan dat daar onder sy leierskap ’n “afbreek van organisatoriese dissipline” plaasgevind het en dat ANC-raadslede sonder behoorlike konsultasie eenkant besluite neem.