KYK: Vier vermeende huisrowers vas ná jaagtog in ongeluk eindig
Vier verdagtes is in hegtenis geneem ná ’n gevaarlike jaagtog deur Midvaal se strate.
MIDVAAL – Vier verdagtes het beheer oor hul voertuig verloor nadat hulle Woensdag van ‘n huisroof af gevlug het en teen ‘n ander motor gebots het. Die verdagtes het daarna per voet probeer vlug.
Volgens die privaatsekuriteitsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense het sommige van die verdagtes selfs probeer om in ’n ander motor te kaap. Danksy die teenwoordigheid van verskeie veiligheid- en polisie-eenhede is hulle gedwing om hulself oor te gee.
Die voertuig is opgespoor nadat een van Sekuriteit se SNIPR-kameras geaktiveer is, en ’n jaagtog het gevolg tussen die verdagtes, Sekuriteit Sonder Grense en die polisie.

Twee verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem, terwyl die twee oorblywende verdagtes later met die hulp van die SSG se hommeltuigeenheid opgespoor en in hegtenis geneem is.
Die verdagtes word van diefstal en poging tot motordiefstal verdink. Alle gesteelde items is teruggevind en saam met die verdagtes en hul voertuig na die polisiekantoor geneem.
Die ondersoek en jaagtog is moontlik gemaak deur die samewerking van verskeie eenhede: Sekuriteit Sonder Grense, High Risk Units, die polisie se honde-eenheid van Sedibeng, die Vereeniging GPF, CB Security, provinsiale nooddienste, Carbine Protection, SRS, Midvaal-vredesbeamptes, Midvaal-verkeer en die 101-insleepdiens.

