Vermiste Attie Venter (43) se lyk gevind
Die soektog na Attie Venter, wat vroeër as vermis aangemeld is, het tragies geëindig nadat hy na bewering dood by die Sebokeng-lykshuis gevind is. Vaalweekblad verneem dat ’n moorddosier oopgemaak sal word.
OPDATERING 2025/12/08 – 08:15 :
Familie van Attie Venter vra dat korrekte inligting gedeel word
VANDERBIJLPARK – Ná vroeëre berigte oor die verdwyning en dood van Attie Venter (43), het ’n familielid, Michelle Venter, Vaalweekblad gekontak om sekere besonderhede reg te stel en groter duidelikheid te gee oor die tydlyn.
Volgens die polisie is Venter se liggaam Woensdag (3 Desember) naby Laerskool Hendrik van der Bijl aangetref, met veelvuldige beserings. ’n Moordondersoek is geopen, en volgens polisiewoordvoerder sers. Sabelo Sigcu word daar vermoed dat Venter aangerand is voordat hy gesterf het.
Die familie bied egter ’n alternatiewe tydlyn aan.
In ’n verklaring sê Michelle Venter dat Attie reeds Saterdagaand (29 November) oorlede is en dat die polisie sy liggaam later daardie aand gevind het. As gevolg van ’n vertraging in die aankoms van forensiese dienste, is hy amptelik in die vroeë ure van Sondagoggend (30 November) dood verklaar.
Sy bevestig voorts dat Attie eers Woensdag (3 Desember) as vermis aangemeld is en Donderdag (4 Desember) formeel deur die familie geïdentifiseer is.
Die familie versoek dat media-instellings hul privaatheid respekteer en seker maak dat slegs geverifieerde inligting gepubliseer word.
Die presiese omstandighede rondom Attie se dood word deur die polisie ondersoek.
Enigiemand met inligting wat kan help, word versoek om die Vanderbijlpark-polisie by 016 360 4700, die CrimeStop-nommer 08600 10111, of die MySAPS-app te gebruik.
—————————————————————————————————————————————————–
OPDATERING 2025/12/04 – 12:20
Die vermiste man is na bewering dood by die Sebokeng-lykshuis gevind.
Vaalweekblad verneem dat ’n moordsaak oopgemaak sal word.
Navrae is aan Sergeant Sabelo Sigcu, polisiewoordvoerder, gestuur, en ons wag nog vir terugvoer.
**Hierdie is ’n ontwikkelende storie en sal opgedateer word soos nuwe inligting ontvang word.**
——————————————————————————————————————————————————
VANDERBIJLPARK – Die familie van die 43-jarige Attie Venter doen ’n beroep op die publiek om te help om hom op te spoor.
Venter, wat laas by sy woonstel in Stephensonstraat, Vanderbijlpark, gesien is, het op Sondag, 30 November, omstreeks 15:00 vermis geraak.
Volgens sy familie het hy ’n swart T-hemp gedra.
Hulle het sedertdien niks weer van hom gehoor nie en kon hom ook nie kontak nie.
Die familie het hom intussen as vermis by die polisie aangemeld.
Venter is 1.68 meter lank en weeg ongeveer 80 kilogram.
Enigiemand met inligting wat kan help om hom op te spoor, word gevra om Michelle Venter by 076 027 8131 te skakel.
