OPDATERING 2025/12/08 – 19:20
In teenstelling met ’n plasing op die amptelike Lazaro’s Children’s Foundation-blad wat vir finansiële bydraes vra om Karien De Bruyn vanuit Mauritius na SA te bring, het Isabel Coetzee De Bruyn, ’n familielid, laat weet: “Dis glad nie waar. Ons het reeds alles betaal. Verwyder die artikel.”
Dit blyk dat die oorspronklike plasing van die stigting se Facebook-blad verwyder is.
Lesers word gewaarsku om versigtig te wees.

‐———-‐————————————————————
MEYERTON – Die gemeenskap is in rou ná die skielike dood van Karien de Bruyn, stigter van die Lazaro’s Children’s Foundation, wat onverwags in Mauritius oorlede is.
De Bruyn, wat die nie-winsgewende organisasie in 2024 gestig het ter nagedagtenis aan haar seun, Lazaro, word beskryf as ’n vrou met ’n buitengewone vermoë om liefde en deernis uit te leef te midde van groot persoonlike hartseer.
Lazaro is in Januarie 2024 onder omstrede omstandighede dood, en die raaisel rondom sy dood het landwyd aandag getrek.
Sy ma se lewenspad ná sy dood is gekenmerk deur haar vasberadenheid om ander kinders se lewens te verbeter, ten spyte van haar eie pyn.
Op die stigting se amptelike Facebook-blad is hulde aan haar gebring met die boodskap: “In Loving Memory of a Beautiful Soul. Today we honor a woman whose heart carried more love and more pain than any of us will ever fully understand… She loved fiercely, gave generously and stood by others even while fighting her own silent battles… Her story does not end in her pain, it continues in the love she gave, the memories she left behind, and the way she changed the hearts of those who knew her.”
Volgens die stigting het De Bruyn se dood ‘skielik en onverwags’ in Mauritius plaasgevind.
Haar familie staan nou voor die uitdagende en duur proses om haar liggaam na Suid-Afrika terug te bring.
Repatriasie vanuit ’n ander land behels onder meer oorsee-lykhuis- en administrasiekoste, noodsaaklike dokumentasie, vliegvervoer en plaaslike begrafnisreëlings.
Die stigting het verduidelik dat hierdie finansiële las te swaar is vir haar pa om alleen te dra, en doen ’n beroep op die publiek vir enige hulp.
Die plasing is intussen verwyder.
Die gemeenskap onthou Karien as ’n saggeaarde, mededeelsame vrou wat ander ondersteun het, selfs terwyl sy self deur groot verlies geworstel het.
Haar nalatenskap leef voort in die werk van die Lazaro’s Children’s Foundation en in die mense wie se harte sy geraak het.