Kersfeespret in Duncanville: 120 kinders geniet partytjie ondanks reën
Al het die druppels geval, het die Kersfeesvreugde by Sonhof steeds 120 kinders se oë laat straal.
VEREENIGING – Die reën kon nie die Kersgees in Duncanville demp nie. Op 13 Desember het Julien du Plessis, die Vereeniging-inwoner wat onlangs as Queen of Africa 2025 aangewys is, ‘n spesiale Kersfeespartytjie aangebied vir 120 kinders by die Sonhof-woonstelle.
Alhoewel die weer nat en koel was, het die glimlagte van die kinders en die feestelike atmosfeer die partytjie lewendig gemaak. Elke kind het ‘n geskenkie ontvang, en daar was kolwyntjies, koeldrank en skyfies om die feesviering nog lekkerder te maak.

Du Plessis het saam met Anelien Ingham en Lande Pretorius die partytjie beplan en gereël, met ondersteuning van ‘n span vrywilligers wat gehelp het om alles vlot te laat verloop.
Die Kersfeespartytjie is deel van Julien du Plessis se voortdurende betrokkenheid by die gemeenskap, en dit wys hoe selfs ‘n klein gebaar van vriendelikheid en liefde vir kinders ‘n groot verskil kan maak. Hierdie dag in Duncanville was ‘n herinnering dat die gees van Kersfees regtig om saamwees, gee en vreugde gaan.


