News

Familie soek steeds na pa (84) wat al 7 weke lank vermis is

Hy het net uitgestap en is nooit weer gesien nie.

VANDERBIJLPARK – Dit is vandag 7 weke en 4 dae sedert die 84-jarige Jacobus Marthinus “Kobus” Burger spoorloos verdwyn het.

Burger is op Donderdag 6 November omstreeks 18:00 vir die laaste keer in SE1 gesien. Hy het grys hare, bruin oë, is 1,65 m lank en weeg ongeveer 60 kg. Hy het ’n snymerk op sy voorkop en ’n klein snymerkie aan die kant van sy gesig.

Volgens sy dogter, Landi Burger, het hulle die dag nog saam ontbyt gehad en in die middag gesê hulle gaan gou aandete maak, maar toe stap hy net uit.

Volgens die familie het hulle al verskeie kere by plaaslike hospitale, klinieke en lykshuise vir hom gaan soek. “Jy is nie saam met die mense op straat nie. Waar is jy, Pa?” vra Landi. Sy sê hulle het hard teen ’n muur vasgeloop, aangesien die polisie volgens hulle net leë beloftes maak en niks van die inligting opvolg wat hulle voorsien nie.

“Al wat ons nog kan aan dink, is dat hy dalk by iemand bly wat vir hom sorg. Miskien het hy vir hulle gesê hy het nie familie nie, of hy wil nie vir hulle vertel van ons nie. Ons weet nie. Ons kan net raai of vermoed. As dit die geval is, stuur net ’n boodskap of los ’n briefie in die posbus dat ons weet hy is veilig. As iemand vir Pa versorg, laat weet ons net dat hy ok is. Dis al wat ons nog kan vra,” sê Landi.

Die familie versoek die gemeenskap om enige inligting wat kan help om hul pa se veiligheid te bevestig, te deel. Enigeen wat iets weet, kan die ondersoekbeampte a.o. Mohale by 071 675 7242 skakel.

“Sy plek was leeg met Kersfees, en ons sien uit na Nuwejaar… maar ons sal aanhou soek, al loop ons self deur die strate,” sluit Landi en Hendrik af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button