Yolandie neem jou op ’n klankreis langs Suid-Afrika se paaie
’n Lied wat Suid-Afrika se paaie en mense in klank vasvang.
MEYERTON – Yolandie se nuwe Afrikaanse lied, “Padlangs”, gee Suid-Afrika se stories, mense en landskappe lewe.
Die lied is die temalied vir die toerismeprojek Padlangs deur die RSA, wat Suid-Afrikaners nooi om hul land met hernude trots en oop harte te ontdek.
Die lirieke, geskryf deur Jacques Leo van Vaal Stereo, handel oor reis, ontdekking en menswees. Met haar sielvolle stem gee Yolandie “Padlangs” emosie en diepte.
Clayton Cloete speel kitaar en Gertjie Fourie banjo, terwyl Hennie Ungerer die produksie afgerond het en ’n egte, tydlose klank geskep het.
Volgens Jacques Leo speel die lied ’n belangrike rol in die projek. “Dit is ’n klankreis wat Suid-Afrika se verborge skatte en gemeenskappe in die kollig plaas.” Die lied sal ook as temalied vir ’n YouTube-reeks en radio-inisiatiewe gebruik word.
Yolandie se vertolking van “Padlangs” is nou beskikbaar, en die lied kan oor die YouTube-reeks en radioprojekte gehoor word.
