News

Pensioenarisse betoog voor Eskom oor aanhoudende krag- en waterkrisis

Bejaarde inwoners het Woensdag voor Eskom in Meyerton betoog oor kragonderbrekings wat ’n waterkrisis veroorsaak.

*Die storie het eerste in die gedrukte weegawe van Vaalweekblad (16 Januarie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant vir al die jongste nuus.

MEYERTON – Verskeie inwoners van Daleside en Witkop in Midvaal het Woensdagoggend (14 Januarie) aan ‘n vreedsame protesoptog voor Eskom se korporatiewe kantore in die dorp deelgeneem.

Die inwoners het hul frustrasie oor aanhoudende kragonderbrekings uitgespreek.

Die betogers, onder wie pensioenarisse en rolstoelgebruikers, het plakkate gedra wat lees: “Ons is 50 pensioenarisse sonder krag sedert 8 Januarie 2026. Ons het geen water nie weens kragonderbrekings by die boorgat.”

Schalk van der Merwe, eienaar van ’n plaas in die Daleside/Witkop-gebied, het aan Vaalweekblad gesê dat hy karavaanstaanplek aan ongeveer 56 bejaarde persone op sy plaas bied.

‘n Pensioenaris betoog Woensdagoggend voor Eskom se korporatiewe kantore in Meyerton oor die voortdurende krag- en waterkrisis wat deur inwoners van Daleside en Witkop in die gesig gestaar word. Foto: Christiaan Cloete

Hy sê: “Dis erg. Ons het twee mense op die plaas in rolstoele. Om sonder water te sit is nie ’n grap nie. Mens kan nog sonder krag klaarkom, maar sonder water kan mense nie eers hul toilette spoel nie.”

Betogers het hul frustrasie uitgespreek oor die onstabiele kragtoevoer wat huishoudelike toestelle beskadig en kos in yskaste laat vrot.

Catharina Moolman, wat aan asma ly en van ’n suurstofapparaat afhanklik is, tydens Woensdag se protes voor Eskom se kantore in Meyerton oor aanhoudende krag- en wateronderbrekings.

Gerrie Schoeman sê: “As die yskas gaan, is dit ’n hele maand se salaris net om dit te vervang.”

Marie Goosen voeg by: “Die vleis in die yskaste gaan net bederf.”

Ongeveer 20 inwoners van Daleside en Witkop in Midvaal het Woensdagoggend voor Eskom se korporatiewe kantore in Meyerton betoog oor voortdurende krag- en waterprobleme. Foto: Christiaan Cloete

Catharina Moolman, wat aan asma ly en op ’n suurstofapparaat staatmaak, kan nie gebruik maak van haar mediese toestel wanneer die krag af is nie.

Tydens die protesoptrede het Van der Merwe met lede van Eskom vergader.

Volgens hom is Eskom nou bewus van die situasie. Hy het ook ’n direkte kontaknommer ontvang om toekomstige probleme vinniger op te volg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button