News

‘Gone in 120 seconds’: Motor verdwyn voor karwag se oë

Die video wys hoe min dit vandag verg om ’n motor te steel.

VEREENIGING – ’n Motor is Woensdagmiddag binne minute uit ’n plaaslike winkelsentrum se parkeerterrein gesteel.

Die voorval, wat alles op kringtelevisie vasgevang is, het mense aan die gons en wys hoe maklik dit is om ‘n voertuig te steel.

Volgens inligting wat aan Vaalweekblad verskaf is, het die voorval Dinsdag 3 Februarie omstreeks 15:00 by die Arcon Park Winkelsentrum plaasgevind.

’n Toyota Voxy is uit die parkeerarea gesteel, terwyl ’n parkeerwag slegs ’n paar meter van die kar was en heen en weer geloop het.

Op die geslotekring-beeldmateriaal kan mens sien hoe ’n man, geklee in ’n swart T-hemp, rustig na die voertuig se voorste passasiersdeur stap.

Hy vroetel kortliks aan die deur — sonder enige sigbare geweld.

Binne sowat 10 sekondes kry hy toegang tot die voertuig.

Die motordief maak die passasiersdeur oop. Foto: Verskaf

Minder as twee minute later word die motor aangeskakel, en die verdagte ry eenvoudig weg.

Die Toyota Voxy is ’n voertuig wat Toyota nooit amptelik in Suid-Afrika bekendgestel of verkoop het nie.

Die model word egter gereeld uit lande soos Botswana, Zambië, Uganda, Tanzanië, Ghana en Kenia ingevoer en plaaslik herverkoop.

Kenners waarsku reeds lank dat sekere ingevoerde voertuie kwesbaar kan wees vir elektroniese of meganiese diefstal, veral indien hulle nie oor bykomende sekuriteitskenmerke soos nagespoorde immobiliseerders of opsporingstoestelle beskik nie.

Die gesteelde voertuig. Foto: Verskaf

Die beeldmateriaal wek ernstige kommer oor veiligheid in openbare parkeerareas, aangesien die verdagte nie haastig of verdag opgetree het nie — en niemand het ingegryp nie.

Ten tyde van publikasie is geen kommentaar van die winkelsentrum se bestuur ontvang nie.

Die voorval dien as ’n skerp waarskuwing aan motoriste: ’n voertuig kan binne oomblikke verdwyn — selfs in helder daglig.

Die motordief ry met die voertuig weg. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button