Departement gee groen lig vir mynontwikkeling
Omgewingsgoedkeuring mbaan die weg vir mynbou tussen Vereeniging en Meyerton.”
VEREENIGING – Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het onlangs die mynmaatskappy Glubay Coal toestemming gegee om ’n oopgroefsteenkoolmyn tussen Vereeniging en Meyerton te ontwikkel.
Dit volg na jare van openbare vergaderings en hewige teenkanting van inwoners.
Die departement het op 13 Mei ’n kennisgewing uitgereik wat bevestig dat Glubay Coal (Pty) Ltd nou omgewingsgoedkeuring ontvang het.
Dit beteken dat die maatskappy nou kan begin met die mynbou-ontwikkeling van die Springfield-, Redan- en Vlakfonteinterreine.
Alhoewel die projekte ongeveer 550 werksgeleenthede beloof, is die eerste aansoek in 2023 met massiewe teenstand deur plaaslike inwoners begroet tydens ‘n openbare vergadering.
By vorige openbare vergaderings het inwoners herhaaldelik kommer uitgespreek oor gesondheidsrisiko’s, omgewingsskade en die impak op erfenisterreine. Inwoners van Arconpark, Waldrif, Falcon Ridge, Springcol, Harmoniesrus, Houtkop, Unitaspark, Vaalkop, Van der Merweskroon, Rust-ter-Vaal en Roshnee het gewaarsku oor die myn se nabyheid aan huise, moontlike waterbesoedeling, geraas en vibrasies, sowel as die breër sosioekonomiese impak op beide stedelike en landelike gemeenskappe.
Grondeienaars het ook die bedreiging vir omliggende plase uitgelig.
’n Groot bron van kommer is die moontlike impak van mynboubedrywighede op die Redanrotskunsplek.
Dit is ’n beskermde erfenisgebied met tussen 200 en 300 rotsuitkerfsels (petrogliewe) wat moontlik tot die Ystertydperk terugdateer.
Glubay Coal sê ’n erfenisplan sal help om die gebied te bewaar, maar inwoners en erfenisgroepe bly skepties oor die myn se moontlike impak.
Die omgewingsvergunning bied ’n 20dae venstertydperk vir besware, waartydens geaffekteerde partye beswaar kan aanteken.
As daar geen besware ingedien word nie, of as besware onsuksesvol is, sal Glubay Coal kan begin myn, onderhewig aan die voorwaardes wat in die omgewingsgoedkeuring uiteengesit word.
Die goedkeuring word beskou as ’n kritieke keerpunt in dié voortslepende kwessie.
