Sportbesering stel netbalspeler se toekoms in gedrang
Marionique se netbaldrome hang aan ’n draad — sy benodig dringend hulp.
MEYERTON – ’n Jong netbalspeler se drome om eendag vir die Proteas uit te draf, kan skipbreuk lei indien sy nie genoeg fondse bymekaar kan skraap vir ’n dringende operasie nie.
Marionique Henning is ’n voormalige leerder aan die Hoërskool Dr. Malan wat verlede jaar vir die skool se eerste span uitgedraf het en nou besig is met haar BSc-graad in Gesondheidswetenskappe met klem op sportafrigting en menslike bewegingswetenskap aan Noordwes-Universiteit.

Sy het haarself tydens ’n netbalwedstryd vroeër vanjaar beseer.
Haar ma, Annetjie, vertel: “Na jare van harde werk, vroeë oggende en intense oefening, het sy die kans gekry om haar netbal by die NWU te ontwikkel — ’n droom wat haar nader aan die Proteaspan sou bring. Net toe hierdie nuwe hoofstuk begin, het Marionique ’n ernstige kniebesering opgedoen wat onmiddellike mediese aandag vereis.”

Die totale koste van operasie, spesialiskonsultasies, prostese en fisioterapie beloop sowat R107 000.
Sonder hierdie behandeling loop haar kans om terug op die baan te kom ‘n ernstige risiko.

Tot dusver is slegs R2 400 ingesamel.
“Sy het vir 12 jaar so hard gewerk,” sê Annetjie.
“Sy was kaptein van Dr. Malan se eerste span in graad 11 en 12, het SA Bokkies verteenwoordig en Thailand toe getoer. Nou op NWU is haar droom om ’n Proteaspeler te word, maar ons moet die operasie uitstel as gevolg van die koste. Ons is bang haar netbloopbaan gaan andersins eindig.”
‘n Back-a-Buddy-blad is geskep om Marionique te ondersteun en die fondse in te samel. Elke skenking, hoe klein ook al, bring haar ’n stap nader aan herstel en terug op die netbalbaan.
Klik hier om by te dra tot die Back-a-Buddy-fondsinsameling.

