News

Geen borg vir vermeende ‘fopwerktuigkundige’

Verdwyning op borgtog tel swaar teen beskuldigde.

MEYERTON –’n 24-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy klante se motors sou herstel en dan skelm verkoop het sonder hul toestemming, bly agter tralies.

Shane Christopher Ward se aansoek om borgtog het Donderdag in die Vereeniging-streekhof misluk.

Ward staan tereg op drie aanklagte van motordiefstal.

Sy moeilikheid met die gereg het vererger nadat hy verlede jaar, terwyl hy op borgtog was, spoorloos verdwyn het.

’n Lasbrief is in Desember vir Ward uitgereik nadat hy nie vir sy hofverskyning opgedaag het nie.

Privaatspeurders het hom uiteindelik, op 25 Januarie, in Bloemhof opgespoor. Daar is bykans twee maande na hom gesoek voordat hy opgespoor is.

Ward het verlede week tydens sy borgaansoek getuig dat hy nie in Desember in die hof was nie omdat hy na Bloemhof verhuis het, daar gewerk het en boonop die aand voor sy hofverskyning by ‘n vulstasie van ‘n selfoon, R2 000 kontant, ‘n goue ketting en ‘n karradio beroof is.

Daar is egter geen saak geopen nie.

Shane Ward tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Christiaan Cloete

Die landdros het dit problematies gevind dat Ward tydens sy vorige borgaansoek ‘n woonadres aangedui het, maar na Bloemhof verhuis het sonder om die hof, die polisie of sy familie te laat weet waarheen hy gaan.

Hy wou ook by Ward weet waarom hy nie ‘n diefstalsaak geopen het toe hy die aand voor sy hofverskyning beroof is nie. Ward het hierop geantwoord dat hy op die betrokke aand by ‘n werksfunksie was waar hy gedrink het. Volgens hom het die polisie geweier om ‘n saak te open omdat hy onder die invloed van drank was.

Op die landdros se vraag oor waarom hy graag vir borgtog aansoek doen het Ward gesê dat hy ‘n dogtertjie het wat hy vir 6 maande laas gesien het end at hy haar ma wil help om haar te versorg aangesien sy sukkel.

Belinda-Lee Coetzee wys ‘n foto van haar unieke VW-kewertjie. Foto: Christiaan Cloete

Toe die aanklaer Amukelani Rikhotso hom vra wat hy van karre weet, het Ward geantwoord dat hy net in 2022 kortstondig by ’n werkswinkel gewerk het. “Ek het in 2022 by die Bosch-werkswinkel in Meyerton gewerk – that’s it.”

Hy het tydens die borgaansoek ontken dat hy daarna privaatwerk gedoen het deur mense se motors te herstel.

Een van die slagoffers Belinda-Lee Coetzee (53) het buite die hof beweer dat Ward haar unieke VW Beetle onder die voorwendsel van herstelwerk kom haal het en dit daarna sonder haar toestemming verkoop het.

Sy het gesê Ward het haar versoek vir die voertuig se dokumente, wat glo die verkoop moontlik gemaak het.

Ward bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.

Van Shane Ward se beweerde slagoffers buite die Meyerton-polisiestasie verlede jaar toe hulle kriminele klagtes wou lê. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button