Vaaldriehoek-fietsryers skitter by Kaapstad-fietstoer
Vaaldriehoek-ryers het vanjaar sterk by die Kaapstad-fietstoer presteer, van jong talent tot ervare veterane.
KAAPSTAD – Fietsryers van die Vaaldriehoek het op Sondag 8 Maart uitstekend gevaar tydens die Kaapstad fietstoer.
Een van die uitblinkers was Shanique Marx, ’n leerder aan Hoërskool Transvalia, wat vyfde geëindig het in die 78 km-wedren vir dogters o19.
Sy het ook ’n algehele 46ste plek uit 110 deelnemers behaal.
Shanique, wat in Januarie by die On Track by NXTG Racing-ontwikkelingspan aangesluit het, sal later vanjaar saam met die span aan kompetisies in België deelneem.

Die span bestaan uit ryers van regoor SuidAfrika, insluitend Sasolburg, Baberton, Bethlehem, Bloemfontein, Knysna en Oos-Londen.
Die Vanderbijlparkse veteraan fietsryer, Massimo Guglielmi van Team Nessa, het 16de in die afdeling vir mans 40–44 geëindig in die 109km-wedren en algeheel 169ste.

Team Nessa, geborg deur ’n plaaslike ingenieursfirma in Vanderbijlpark, fokus op mentorskap en afrigting van belowende jong fietsryers.
Ryno Schutte, ook van Team Nessa, het die span verder trots gemaak deur ’n indrukwekkende algehele derde plek te behaal, net ná wenner Ryan Gibbons en naaswenner Jaedon Terlouw.

Die Kaapstad-fietstoer is een van die grootste fietsrybyeenkomste in die wêreld en het vanjaar weer duisende ryers gelok, insluitend baie van die Vaaldriehoek
*Weet jy van plaaslike fietsryers wat goed gevaar het in vanjaar se Kaapstadf ietstoer? Laat weet ons asseblief deur ’n e-pos te stuur aan christiaan@mooivaal.co.za
