Emfuleni bestee glo R700 miljoen aan oortyd
Die munisipaliteit het R700 miljoen aan oortyd spandeer.

VANDERBIJLPARK – Die DA sê die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit spandeer bykans R700m op onnodige oortydbetaling aan werknemers, terwyl basiese dienslewering steeds agteruitgaan.
Die omvang van die oortydbetalings is aan die lig gebring danksy vrae wat die DA onlangs in die Gautengse Provinsiale Wetgewer ingedien het, uit kommer oor die buitensporige bedrae wat aan personeel se oortyd betaal word.
Kingsol Chabalala, die DA se burgemeesterskandidaat vir Emfuleni en lid van die Provinsiale Wetgewer, sê die geld kon eerder aangewend word om meer dringende probleme van die munisipaliteit aan te spreek, soos die gebrek aan dienslewering.
“Buiten die buitensporige oortydbetalings is daar geen sigbare verbetering in dienslewering by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit nie. As R700m aan oortyd betaal word, behoort inwoners skoner strate, vinniger herstel van waterlekke en werkende elektriese infrastruktuur te sien. Die munisipaliteit is veronderstel om aan inwoners se behoeftes te voldoen, maar in plaas daarvan gaan toestande steeds agteruit,” sê Chabalala.
Volgens Chabalala laat dit vrae ontstaan oor waarheen die geld werklik gaan.
“Werk die personeel werklik oortyd, of is dit maar net nog ’n manier waarop publieke fondse wanaangewend word of verdwyn?” wil Chabalala weet.
Hy sê die DA sal voortgaan om antwoorde in die Gautengse Provinsiale Wetgewer te eis totdat hierdie saak ten volle ondersoek is en diegene wat verantwoordelik is aanspreeklik gehou kan word.
“Die mense van Emfuleni verdien deursigtigheid. As sulke massiewe bedrae gespandeer word sonder enige verbetering in dienslewering, moet daar duidelik iets ernstig verkeerd wees. Hierdie roekelose besteding is ’n klap in die gesig vir inwoners wat sukkel. Die inwoners van Emfuleni verdien skoon strate, betroubare infrastruktuur en verantwoordbare leierskap,” sê hy.