Vanderbijlpark Fotoklub span tegnologie in vir klubaande
Belangstellendes en voornemende lede is welkom om die aande by te woon en meer oor die kuns van fotografie te leer.
VANDERBIJLPARK – Die Vanderbijlparkse Fotografiese Vereniging beweeg saam met die tye en maak dit nou vir lede moontlik om klubaande virtueel via Zoom by te woon.
Hierdie inisiatief tree op 10 April in werking, wanneer die tema “Straatfotografie” onder die vergrootglas sal wees.
Die onlangse Maart-byeenkoms, met “Silhoeëtte” as tema, het weer eens bewys dat die plaaslike talent van topgehalte is.
In die senior afdeling (4-, 5-ster en hoër) het Francois Roux die beoordelaars beïndruk met sy wenfoto, “Bosveld kremetart”.
Onder die juniors (1 tot 3-ster) het Eanette Maass met die louere weggestap vir haar foto “Kinder silhoeëtte”.


Ander afdelings
Monochroom: Renée Storme se “Horses and cosmos” (Senior) en Pikkie Marais se “Patched Rose” (Junior) was die uitblinkers.


Selfoonfotografie: Renèe Storme het haar tweede oorwinning van die aand behaal met “Italian Dolomites” (Senior), terwyl Eanette Maass die junior-kategorie gewen het met “Sutherland”.


Oop-afdeling: Mietsie Visser se treffende foto, “Supermom and two cubs”, is nie net as die senior-wenner aangewys nie, maar ook as die algehele wenfoto van die aand.
Pikkie Marais se “Loafing around” was die junior-wenner.


In die klub se aanlyn kompetisie, waar enige foto ingeskryf kan word, is Suzy Louw se “Impisi” as die wenner gekroon.

Vir diegene wat die volledige galery en beoordelaarskommentaar wil sien, is alle foto’s beskikbaar op die klub se webtuiste by www.vdbp-photo.org.
Klub inligting
Die vereniging vergader elke derde Vrydagaand om 18:30 by die NWU-kampus in Vanderbijlpark.
Vir meer inligting kontak Johan Brits by 082 718 8394 of e-pos tsawa@yebo.co.za.
Webtuiste: www.vdbp-photo.org
Facebook: VdbpPhotoClub
