Twee generasies help van Pretoria tot die Vaaldriehoek
Wat begin het as ’n roeping by ’n ma in Pretoria, leef vandag voort in haar dogter wat gemeenskappe in die Vaaldriehoek bedien.
Vena Strauss (70), ’n voormalige ontvangsdame van Solidariteit Helpende Hand, woon in Wierdapark, Centurion. Haar jare se diens het nie net ’n verskil in mense se lewens gemaak nie, maar ook haar dogter, Mariëtte van de Werken van Vanderbijlpark, se pad help vorm.
Vena onthou: “My heel eerste verantwoordelikheid was nie net ontvangs en die skakelbord nie. Aanvanklik was dit vir my ’n reuse-uitdaging om te dink ek moet net sit in die ontvangsarea van Helpende Hand se hoofkantoor in Pretoria.”
Dit het egter vinnig verander. Haar rol het uitgebrei tot die hantering van maatskaplike hulpversoeke, e-posse en direkte aanmeldings van mense in nood.
Met 15 jaar se ervaring by die Pietersburg Kinder- en Gesinsorgvereniging, en ’n sterk geloofsoortuiging, het sy mense met insig en deernis hanteer.
Vir haar dogter, Mariëtte was hierdie ingesteldheid van jongs af deel van haar lewe.
“Ek het grootgeword in die welsynswêreld. My ma het in kindersorg gewerk en ek het altyd gehelp met fondsinsamelingsprojekte, selfs as ’n nar op Rooineusdag,” sê sy.
Ná skool het Mariëtte haar eie pad in nooddienste gevolg, maar haar ma se betrokkenheid by Helpende Hand het haar anders laat kyk na die lewe.
Sy het aansoek gedoen vir ’n pos by Helpende Hand in die suide van Gauteng en is aangestel. Vandag dien sy as streekorganiseerder in die Vaaldriehoek, en op 5 September 2026 vier sy 13 jaar by die organisasie.
“My hart klop vir my vrywilligers en die gemeenskappe saam met wie ek werk. Dit maak my trots as ek ’n dankie kry, selfs van ’n graad 1-leerling vir sy skooltassie,” sê sy.
Vena bly steeds betrokke en waardeer die geleenthede om saam met ander vrywilligers te dink en oplossings te soek. “Saam kan ons ’n boek skryf oor die ervarings, maar dit is die ware stories van hoop en verandering wat bybly,” sê sy.
Met twee generasies wat dieselfde roeping uitleef, is dit duidelik dat diensbaarheid nie net aangeleer word nie, maar oorgedra word.
Besoek www.vaaldriehoekhand.co.za om as vrywilliger in die omgewing aan te sluit.
