News

Musiekgemeenskap geruk deur Charné (44) se skielike dood

Huldeblyke deur plaaslike en bekende SA-kunstenaars stroom steeds in op Charné Venter se Facebookblad.

VANDERBIJLPARK – Die musiekbedryf en die Vaaldriehoek-gemeenskap rou oor die skielike afsterwe van Charné Venter (44), ’n bekende figuur in plaaslike vermaakkringe.

Charné, die stigter en eienaar van die besprekingsagentskap The Chorus Project, is op 10 Junie dood in haar woning aangetref.

Volgens ’n voorlopige doodsondersoek is sy vermoedelik in haar slaap aan ’n hartaanval oorlede.

Venter was wyd bekend as die dryfveer agter talle kunstenaars se loopbane.

Haar onwrikbare liefde vir musiek het haar jare gelede genoop om haar beroep as makelaar prys te gee om haar droom in die musiekbedryf voltyds na te jaag.

Haar ouer suster, Monique Pienaar, vertel dat onraad vermoed is toe Charné se voertuig by die huis gestaan het, maar sy nie op navrae gereageer het nie.

“Die eienaar van die woning waar Charné gehuur het, het my gekontak. Ek is dadelik soontoe, en met my aankoms was die polisie reeds op die toneel. Dit is toe dat ons haar gevind het,” sê ’n hartseer Pienaar.

Charné Venter (regs), saam met haar gesin. Van links is: Monique Pienaar (suster), CJ en Ninke Aylward en Lllewellyn Pienaar.

’n “Go-getter” met ’n hart van goud

Sedert die nuus van haar dood op sosiale media bekend gemaak is, stroom huldeblyke in van kunstenaars en vriende van regoor die land.

Charné sal onthou word as ’n vasberade vegter en ’n ware “go-getter” wat bekend was vir haar deernisvolle hart.

Selfs wanneer dinge moeilik gegaan het, was Venter se kenmerkende positiewe gesindheid onmisbaar. Sy sal onthou word vir die “dubbel duime-op” gebaar wat sy gereeld op foto’s gewys het.

Buiten haar werk, was haar familie (spesifiek haar suster se twee kinders) die middelpunt van haar lewe. 

Sy was ook baie lief vir haar honde-kinders wat nou in die sorg van ‘n vriend is.

Begrafnisreëlings

Charné laat haar suster en gesin, en uitgebreide vriendekring agter. Haar ouers is beide reeds oorlede. 

Besonderhede rakende haar gedenkdiens is in hierdie stadium nog nie beskikbaar nie en sal mettertyd bekend gemaak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button