Blommekind op ‘n drafstap deur die lewe
Elize Stols se liefde vir tuinmaak en blomme het tot 'n nuwe avontuur vir haar gesin gelei.
VEREENIGING – Waar Elize Stols haar bevind gebeur daar altyd iets. Stilsit is nie in haar woordeskat nie.
Die boorling van Vereeniging is eienaar van God’s Little Creations en Bethany Blooms. Onlangs het sy en haar kinders ook ʼn koffiewinkel by Behany Blooms oopgemaak.
“Dit het alles so 14 jaar gelede begin,” vertel sy. Sy het op daardie stadium met Yorkies geteel, maar eendag het iemand haar gevra hoekom sy nie ʼn hondesalon begin nie.

Elize is nie een wat skrik vir uitdagings nie en al gou het God’s Little Creations die lig gesien. Honde van alle rasse en groottes word by die hondesalon bederf.
Daar is selfs mobiele eenhede vir die honde wat nie hou van rondry nie. Tussen alles deur het sy agter in haar erf begin blomme plant.
Baie blomme. Sy beskryf haarself as ʼn blommekind en is op haar gelukkigste as sy buite en in die natuur kan wees.
Met al die blomme op hande, het sy en haar dogter, Elizma begin om die blomme te pars. Kort voor lank het hul werkswinkels aangebied en het al hoe meer mense oulike kunswerke uit die geparste blommetjies gemaak.

Haar seun, Christopher het snyblomme op die kleinhoewe geplant. Dit was Junie verlede jaar. Teen Desember was daar kleurvolle blomme oral.
Net daar is Bethany Blooms gebore. Met die kleinhoewe toe onder die blomme, het besoekers die geleentheid gehad om self blomme te pluk.
Dit was ʼn groot sukses. Tans is daar nie blomme om te pluk nie. Dis wel aangeplant en van einde Julie af sal daar weer heelwat blomme wees.
In Februarie het hulle besef, die besoekers pluk nie net blomme nie, hulle kuier ook so ʼn bietjie op die houtbankies wat oral staan.
Daar het die idee van die koffiewinkel ontstaan wat onlangs geopen is. ʼn Plek met baie son, blomme op die tafels en ʼn ons-kuier-lekker atmosfeer.
Elize sê elke projek wat sy aanpak is uit geloof. “ʼn Mens dink mos in een rigting en dan het die Here ʼn ander plan. Kyk nou maar na die plek, ek het nooit gedink ʼn besigheid sou ontwikkel uit my liefde vir tuinmaak nie.”
Sy is ook dankbaar dat haar kinders deel van alles is en daar is vele honde by die huis wat haar besig hou. “Ek is nou maar eenmaal ʼn diereliefhebber. Dis dié dat die koffiewinkel dierevriendelik is. Ons werk aan ʼn hondespyskaart,” lag sy.
Self het sy nog een groot droom en dit is om die Keukenhof botaniesetuine in Nederland te besoek. Daar waar die plate tulpe in alle kleure die besoekers verwelkom.
Vir eers is sy opgewonde om te weet daar is ranonkels en dahlias in die grond en een van die dae is daar weer ʼn kleurtapyt van blomme agter die koffiewinkel.
Vir meer inligting besoek gerus https://bethanyblooms.co.za/.