News

Emfuleni-bedrogspul: Borgtog weer geweier

Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy inwoners én die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit uit honderde duisende rande bedrieg het, bly in aanhouding.

VANDERBIJLPARK – Die vrou wat daarvan aangekla word dat sy honderde duisende rande van inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit geneem het om hul munisipale rekeninge teen afslag te vereffen, maar wat die geld na bewering eerder vir haarself aangewend het, is vir ’n tweede keer borgtog in die Vanderbijlpark-landdroshof geweier.

Die 25-jarige Janitha van Reenen-Coetzee staan tereg op ’n aanklag van bedrog wat na bewering sowat R424 000 beloop.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag het sy haar glo as ’n onafhanklike agent voorgedoen wat inwoners kon help om afslag op uitstaande munisipale rekeninge te bekom. Slagoffers het na bewering geld aan haar betaal om hul rekeninge te vereffen, maar die fondse is glo nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.

Sy word ook daarvan beskuldig dat sy bedrieglike eise ingedien het, wat daartoe gelei het dat die munisipaliteit na bewering ongeveer R424 000 aan haar uitbetaal het eerder as aan die regmatige begunstigdes.

Die beweerde bedrog is destyds aan die lig gebring nadat die munisipaliteit se voormalige finansiële beampte, Martha Rantsofu, verdagte eise aangemeld het. Rantsofu is later in Vanderbijlpark doodgeskiet. Van Reenen-Coetzee staan egter nie tereg op enige aanklag wat met dié moord verband hou nie.

Tydens die jongste borgtogaansoek het die hof onder meer die sterkte van die staat se saak, die moontlikheid dat die beskuldigde met getuies of bewyse kan inmeng, asook die risiko dat sy die hof kan ontduik, oorweeg.

Nadat argumente van beide die staat en die verdediging aangehoor is, het die landdros die tweede borgtogaansoek van die hand gewys.

Die saak is tot 23 Julie uitgestel vir verdere ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button