News

Magiso se reis van paniek na vertroue

Nie alle hondelewens is gevul met stertswaai-liefde en geluk nie. Magiso is een van die honde in Vaalpets se sorg en die eerste deel van sy lewe getuig hiervan.

VANDERBIJLPARK – “Toe ek Magiso die eerste keer ontmoet het, wou hy absoluut niks met mense te doen hê nie. Hy het onder sy Wendyhuis weggekruip, en sodra iemand sy kamp binnegegaan het, het hy in paniek van die een hoek na die ander gehardloop, desperaat op soek na ‘n uitweg,” vertel Andey Wrigley, ‘n Vaalpets-vrywilliger.

“Magiso wou nie oogkontak maak nie, het geen kos aanvaar nie en het niemand toegelaat om aan hom te raak nie. Hy was nie aggressief nie, hy het bloot net nie meer mense vertrou nie.”

Andey het vir Magiso (‘n maltese-kruising) tydens Vaalpets se opedag in September 2025 ontmoet.

Nadat Andey meer geleer het oor redding, rehabilitasie en aanneming, het hy vir Alize van Wyk van A’s K9 Education gesê hy wil graag tyd saam met die honde deurbring.

Sy het hom aan Magiso voorgestel en met ‘n glimlag gesê: “Miskien is hy jou projek.”

En dit was ‘n langtermynprojek.

Magiso was bang vir mense en het onder sy Wendyhuis weggekruip.

Andey was die volgende dag terug en het buite Magiso se Wendyhuis gesit. Hy het sagte jazz-musiek gespeel, rustig met Magiso gepraat en niks van hom verwag nie.

Naweek ná naweek het Andey opgedaag en sy projek voortgesit.

En toe begin alles stadig maar seker om te verander.

“Genesing word nie in dae of weke gemeet nie, maar in klein oorwinnings. Die eerste keer wat hy my in die oë gekyk het, die eerste keer wat hy opgehou hardloop het, die eerste keer wat hy ‘n lekkerny uit my hand geneem het, en die eerste keer wat hy my toegelaat het om hom te streel,” vertel Andey.

Met verloop van tyd het Magiso vir Andey telkens in dieselfde hoek begin inwag.

Nou, wanneer hy Andey se stem hoor, hardloop hy nie weg nie, maar na sy veilige hoekie waar hy vir Andey wag.

En die wag is die moeite werd, want dan kry hy liefde, sy krap agter die ore en natuurlik sy gunsteling hoenderhappies.

“Magiso het my geleer dat liefde soms so eenvoudig is om stil langs iemand te sit wat seergekry het. Vertroue kan nie afgedwing word nie, dit word verdien deur geduld en volgehoue liefde.

Magiso se reis is nog nie klaar nie. Hy is nou gereed vir ‘n geduldige pleeg- of permanente huis waar iemand hom verder kan wys dat hy veilig en geliefd is en behoort.

Indien daar iemand is wat hierdie rol kan vervul, sal dit beslis soos Kersfees in Julie voel vir die personeel van Vaalpets.

“Indien aanneming nie vir jou moontlik is nie, oorweeg dit om ‘n vrywilliger te word. Gaan sit by een van die honde, lees vir hom ‘n boek. Praat saggies. Deel ‘n paar lekkernye. Jy mag dink jy verander sý lewe, maar hierdie ongelooflike honde het ‘n besondere manier om jóú lewe ook te verander,” sê Andey.

Belangstellendes kan Andey skakel by 079 140 3041.

Vir die aanneem van enige honde kan Vaalpets se koordineerders gekontak word. Besoek gerus hul Facebookblad.

Daar word gehoop dat Magiso ‘n permanente, liefdevolle huis sal kry.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button