Clinton kraai koning by modelkompetisie
Clinton Samons het bewys wat gebeur as jy in geloof met deursetting volhard ten spyte van 'n terugslag op jou pad.
VANDERBIJLPARK – The Next Opulent Model South Africa kompetisie se wenners is 20 Augustus by ‘n spoggeleentheid aangekondig. Onder die 43 kategorie wenners was die Vaaldriehoek se eie Clinton Samons.
Hy is aangewys as Body of the Year. Sy vrou, Charnay, het vroeg Vrydagoggnd die nuus gedeel. “Gerdaaaaaa! Clinton het gewen! Body of the Year 2026! Wow, die Here is so goed!” Sy het rede om trots op hom te wees.

Behalwe dat Clinton vir die kompetisie moes voorberei met dieselfde harde werk, dieet en determinasie wat hy inspan vir ‘n liggaamsboukompetisie, het hy in Mei sy hakskeensening geskeur.
Alhoewel hy ‘n suksesvolle operasie agter die rug het, was hy vir weke gekortwiek deur krukke en ‘n voetstut. Clinton het steeds moedig aangegaan en met voetstut en al bly oefen.
Hy erken dat hy ‘n paar maal wou tou opgooi en uit die kompetisie onttrek, maar Charnay en sy geloof het hom deurgedra. Clinton vertel dat die aanloop tot die gala-aand baie straf was.
“Ons het die Woensdag gerepeteer van 06:00 tot 22:00 en die Donderdagoggend weer van 06:00 tot 12:00,” vertel hy. Teen die tyd wat die verrigtinge begin het, het hy gevoel sy voet begin seer raak, maar hy het deurgedruk.
Clinton is nie ‘n ekstrovert nie, maar het net besef hy moet sy alles gee en hy het met hope energie en selfvertroue, elke rondte sy draai voor die 6 000 gaste gemaak. Hy sê die groot wen het nog nie heeltemal ingesink nie, maar hy gaan sy titeljaar in met hoop en opgewondenheid.
“Ek is dankbaar vir my ondersteuners. My vrou, ma en sussie was die aand daar en Muscle Fury waar ek werk, het elke keer verstaan as ek Pretoria toe moes gaan.” Natuurlik is hy dankbaar hy het vasgebyt. “Ek het dit gedoen en hoop om ander te inspireer. Dit was nie maklik nie, maar dit was die moeite werd.”
